Kaapstad misdaad

 
 

Poging to moord in Parkwood

Skieter tref man in bors

MISDAADTONEEL: Parkwood, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Grassy Park het ‘n saak van poging tot moord geopen na ‘n skietery vroeg Dinsdagoggend, 2 Junie 2026 in Parkwood.


Gerugte dui daarop dat iemand ‘n Somaliese burger in sy winkel geskiet het.

Volgens ‘n skakelbeampte van die Wes-Kaapse polisie, sersant Wesley Twigg, het die skietery om 06:50 in Heath-weg plaasgevind.

Toe polisielede by die toneel aankom, het hulle die manlike slagoffer gevind wat ‘n skietwond in sy bors opgedoen het. Hy is in ‘n privaat voertuig na ‘n mediese fasiliteit vervoer. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en arrestasies moet nog gemaak word,” het Twigg gesê.


Man in arres oor poging tot moord in Elsiesrivier

Polisie vang ou gou ná skietery

MISDAADTONEEL: Elsiesrivier, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Vrydagoggend 29 Mei 2026 blitsvinnig reageer om ‘n verdagte in ‘n poging tot moord saak agter tralies te sit.

‘n Media skakelbeampte van die Wes-Kaapse polisie, Kaptein Frederick C. Van Wyk, het gesê ‘n skietvoorval het in 12de-Laan, Leonsdale, plaasgevind.

“Die slagoffer is na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas vir behandeling. Terwyl speurders op die toneel was, is inligting ingesamel en die 37-jarige verdagte is geïdentifiseer.

“Lede van Operasie Lockdown 3 is versoek om te help die verdagte opspoor. Die inligting is opgevolg en lede het na ‘n adres in Nassau Court, 14de Laan, Leonsdale, gegaan waar die verdagte gearresteer is.

“Die vuurwapen wat vir die misdaad gebruik is, is nog nie teruggevind nie,” het Van Wyk gesê.

Bonteheuwel: Op Saterdag 30 Mei 2026 om 01:30 het Operasie Lockdown 3 lede ‘n 41-jarige man by ‘n huis in Pendoringstraat gearresteer vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen, ammunisie en dwelms.

Volgens Van Wyk was hulle besig met ‘n stop-en-deursoek-operasie toe hulle die verdagte man oplet. Hulle het hom voorgekeer en deursoek en in besit van ‘n 9 mm-pistool met nege rondtes ammunisie, drie Mandrax-tablette, drie halwe Mandrax-tablette, fyngemaakte Mandrax, sewe sakkies Tik kontant betrap.

Hy het hom teen die arrestasie verset, wat gelei het tot ‘n besering aan sy arm. Hy is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling en later by die Bishop Lavis polisiestasie ingeboek.


Gewonde man jaag na hospitaal, maar is te laat

Twee sterf, 1 gewond in skietery

MISDAADTONEEL: Hanover Park, Kaapstad: Drie mense is vanoggend, Maandag 1 Junie in Hanover Park geskiet.

Een van die gewondes het met homself en die ander twee na die hospital gejaag, maar sy passasiers het dit nie gemaak nie. Die voorval het in Johndownweg gebeur.

Volgens konstabel Ndakhe Gwalao van die Wes-Kaapse polisie se mediakantoor het die  Philippi polisie op ‘n klag by ‘n hospitaal gereageer.

“Mmet hul aankoms is hulle in kennis gestel van drie slagoffers van ‘n skietery. Volgens berigte het die slagoffers skietwonde in Johndown, Hanover Park, opgedoen. Een van hulle het daarin geslaag om na die hospitaal te ry, maar die ander twee slagoffers, ‘n man en ‘n vrou, het aan hul is met hul aankoms dood verklaar.

“Die polisie het twee aanklagte van moord en ‘n poging tot moord oopgemaak. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en geen arrestasie is nog gemaak nie,” het Gwalao gesê.


Twee spring die dood vry

Mans op pad winkel toe geskiet

MISDAADTONEEL: Mitchells Plain, Kaapstad: Twee mans wat winkel toe gestap het in Tafelsig, het amper met hulle lewens geboet.

Volgens ‘n media skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, kaptein FC van Wyk, is die twee slagoffers Vrydag, 29 Mei 2026 om 20:00 deur ‘n onbekende man geskiet.

“Mitchells Plain SAPD-lede het ‘n klag ontvang van ‘n skietvoorval naby ‘n bushalte in Kilimanjaro-straat. Met hul aankoms het hulle twee slagoffers gevind, ‘n 28-jarige man met ‘n skietwond aan sy agterstewe en ‘n 26-jarige man met ‘n skietwond aan die rug.

“Volgens berigte was die slagoffers op pad na ‘n winkel toe ‘n verdagte twee skote op hulle afgevuur het. Hulle is na nabygeleë hospitale vervoer vir behandeling. Mitchells Plain-polisie het twee aanklagte van poging tot moord geregistreer.

“Die motief is vermoedelik bendeverwant,” het Van Wyk gesê.


Twee gevang met vuurwapens

Tegnologie help polisie in moordsaak

MISDAADTONEEL: Mitchells Plain, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het hul stryd teen misdaad verskerp met tegnologie om ‘n moordverdagte vas te trek.

Die Anti-bende en Drone-eenhede en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANDF), het in die vroeë oggendure van Saterdag, 30 Mei 2026, ‘n operasie in Tafelsig, Mitchells Plain, uitgevoer teen die voortdurende bende konflik in die gebied.

Hulle het ‘n 35-jarige man gearresteer wat gesoek was vir twee moorde en twee pogings tot moord wat verband hou met ‘n voorval wat in Mei 2026 by ‘n huis in Linda Way, Tafelsig plaasgevind het. Die polisie het ook sy perseel deursoek en ‘n 12-kaliber Eskort haelgeweer, vier 12-kaliber rondtes en 17 geweer rondtes gevind. ‘n Klag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie sal by die moord- en pogings tot moord-klagte gevoeg word.

BONTEHEUWEL: Op Vrydag 29 Mei 2026 het die polisie gereageer op ‘n klagte van twee verdagtes wat met vuurwapens in hul besit rondloop in die omgewing van Bramble- en Bracken-straat.

Die polisie het inligting opgevolg wat hulle na ‘n adres in Brisbane-straat gelei het. Hier het hulle die twee mans gevind, waarvan die een verdagte op ‘n vuurwapen op die bed gesit het. ‘n 41-jarige man is gearresteer vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.


Man (22) sterf, 18-jarige gewond

Twee in Wesbank geskiet

MISDAADTONEEL: Wesbank, Kaapstad: Twee jong mans is Donderdagaand 28 Mei 2026 voor ‘n huis in Wesbank geskiet.

Mfuleni-polisielede het op die skietery gereageer en omstreeks 20:00 by die toneel in Klipdalestraat aangekom. Daar het hulle het op die liggaam van ‘n 22-jarige man in die straat afgekom. ‘n Tweede man, 18-jaar-oud, was gewond en reeds in ‘n ambulans.

Volgens die polisie het die 22-jarige veelvuldige skietwonde aan sy bolyf, nek en kop opgedoen. Die 18-jarige het twee skietwonde in sy rug en maag gehad en is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.

Volgens berigte het hulle in die pad geloop toe ‘n onbekende man van agter op hulle begin skiet en weggehardloop het.

Sake van moord en poging tot moord word ondersoek. Die motief is vermoedelik bendeverwant.


Drie dood, 3 gewond in Khayelitsha

Polisie soek 2 mans ná massa-skietery

MISDAADTONEEL: Lingelethu-Wes, Kaapstad: Polisie in die Wes-Kaap is opsoek na ten minste twee aanvallers nadat drie mense dood en drie gewond is in nog ‘n massa-skietvoorval in die provinsie.

Die voorval het Woensdagaand, 27 Mei omstreeks 18:00 in Mew Way, SD-afdeling, Khayelitsha gebeur.

Lede van die Lingelethu-Wes polisie het gereageer op ‘n klag van ‘n skietery in die area. Met hul aankoms op die toneel het die polisie die liggame van drie volwasse mans ontdek wat veelvuldige skietwonde opgedoen het. Een slagoffer is buite die huis gevind, terwyl twee ander binne gevind is waar hulle vermoedelik ten tye van die aanval gesit het.

Die drie mense wat gewond is, is hospitaal toe geneem.

Die motief vir die aanval moet nog bevestig word, maar afpersing kan moontlik die rede wees, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in ‘n verklaring gesê.

“Ervare speurders verbonde aan die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad volg alle beskikbare leidrade op om diegene wat verantwoordelik is vir die aanval aan te keer. Op hierdie stadium word twee onbekende mans gesoek.

“Benewens die ondersoek is operasionele lede in die gebied ontplooi om die situasie te stabiliseer en verhoogde polisie-sigbaarheid in die betrokke gemeenskap te verseker,” het die polisie gesê.

Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word vriendelik versoek om Stop Misdaad te kontak by 08600 10111 of alternatiewelik inligting anoniem te verskaf via die MySAPS-App.


Twee vas toe ammunisie en dwelms ook gevind word

Deurbraak teen onwettige vuurwapens

MISDAADTONEEL: Ottery, Kaapstad: Die polisie het ‘n deurbraak gemaak in die stryd teen onwettige vuurwapens en ammunisie toe lede van Operasie Lockdown III twee verdagtes gearresteer het.

Dinsdag 26 Mei 2026 het die polisie inligting ontvang van ‘n verdagte wat moontlik in die besit van vuurwapens by ‘n perseel in Hohenort Court, Conrad Way, Ottery sou wees.

Kaptein Frederick C van Wyk, ‘n Wes-Kaapse polisie-mediaskakelbeampte, het gesê die lede het Woensdagoggend om 00:40 ‘n taktiese operasie by die adres uitgevoer en die bewoner en perseel deursoek.

“’n 9mm-pistool met die reeksnommer verwyder, ‘n tweede magasyn sowel as 17 rondtes ammunisie is in sy besit gevind. Die vuurwapen met die ammunisie is gekonfiskeer en die 36-jarige verdagte is in hegtenis geneem,” het Van Wyk gesê.

Die lede het ook inligting opgevolg dat ‘n woonstel in Ottery as ‘n wegsteekplek vir vuurwapens en ammunisie asook dwelmhandel gebruik word.

“Omstreeks 01:00 is ‘n taktiese operasie by die tweede adres uitgevoer. Met aankoms by die perseel het die span die deursoeking uitgevoer. ‘n Man het uit ‘n slaapkamer na die toilet beweeg terwyl die lede besig was en iets onder die bad gegooi.

“Na verdere ondersoek is ‘n silwer Smith en Wesson-rewolwer teruggevind. Lede het met hul soektog voortgegaan en ses sakkies dagga is in ‘n klein houer gevind.

“’n 44-jarige man is in hegtenis geneem vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen sonder ammunisie,” het Van Wyk gesê.

Albei verdagtes moet op Vrydag 29 Mei 2026 in die Wynberg-landdroshof verskyn.


Seun (15) in Lotusrivier doodgeskiet

Tragies einde vir tiener

MISDAADTONEEL: Lotusrivier, Kaapstad: ‘n Tienerseun se lewe het Woensdagoggend 27 Mei 2026 in Lotusrivier tot ‘n tragiese einde gekom toe hy doodgeskiet is.

Volgens sersant Wesley Twigg van die Wes-Kaapse polisie se media sentrum het Grassy Park-polisie om 9:50 gereageer op ‘n skietery in Simon-weg, Lotusrivier.

“Toe hulle by die toneel aankom, het hulle ‘n 15-jarige seun met ‘n skietwond in sy bors en ‘n 22-jarige man met ‘n skietwond in sy maag aangetref. Beide slagoffers is deur mediese personeel na die hospitaal vervoer,” het Twigg gesê.

Die seun is later in die hospitaal oorlede weens sy beserings. Die polisie ondersoek moord- en poging tot moord-sake.

Mense met inligting oor die voorval kan Crime Stop kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem gebruik.


Moord in Lavender Hill

Man sterf na enkele steekwond

MISDAADTONEEL: Lavender Hill, Kaapstad: ‘n 27-jarige man is Vrydagoggend, 22 Mei 2026 in Lavender Hill doodgesteek.

Sersant Wesley Twigg van die Wes-Kaapse polisie se mediakantoor het gesê die Steenberg-polisie het ‘n moordsaak vir geopen na die messtekery wat omstreeks 07:00 op die hoek van Urfield- en Epsten-weg gebeur het.

Twigg sê toe die polisie by die toneel het hulle die man met ‘n steekwond aan sy liggaam gevind.

“Hy is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en nog geen arrestasies is op die stadium gemaak nie.”

Mense met inligting oor die voorval kan Crime Stop kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem gebruik.