Kaapstad misdaad

 
 

K9 Bunny snuffel duisende Mandrax-pille uit

Hond is dwelms se baas

MISDAADTONEEL: Bellville, Kaapstad: Die Metropolisie se honde-eenheid het weer in Bellville toegeslaan waar hulle Mandrax-tablette met ‘n straatwaarde van meer as R130 000 gekonfiskeer het.

JP Smith, die Stad Kaapstad se Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, het op Facebook gesê beamptes het Donderdagmiddag, 21 Mei 2026 net voor 12:00 inligting ontvang oor dwelms wat na bewering by die Tienie Meyer Bypass informele nedersetting aangehou word.

Toe hulle by die perseel aankom, het die huisbewoner hulle toestemming gegee om die plek te deursoek.

“Beamptes het aanvanklik op vier Mandrax-tablette afgekom, maar het toe besluit om die honde-eenheid in te roep. Dit was nie lank nie voordat K9 ‘Bunny’ sy hanteerder na ‘n swart sak wat agter ‘n kas versteek was, gelei het.

“In die sak was byna 3 000 Mandrax-tablette met ‘n straatwaarde van meer as R130 000, 14 rondtes ammunisie, ‘n gesteelde selfoon en meer as R5 000 kontant,” het Smith gesê.

‘n 34-jarige verdagte is gearresteer en word by die Bellville SAPD aangehou.

Crime Scene Report het ‘n week gelede berig dat K9 ‘Virus’ ‘n dwelms  met ‘n geraamde straatwaarde van meer as R2,7 miljoen in ‘n geparkeerde motor by Parksig Villas in Bellville ontdek het.


Jongman in sy gesig geskiet

Vermoorde se liggaam in bos gevind

MISDAADTONEEL: Atlantis, Kaapstad: ‘n Jongman is brutal vermoor toe hy in die gesig geskiet en sy liggaam in ‘n bos agtergelaat is.

Volgens sersant Wesley Twigg van die Wes-Kaapse polisie se mediakantoor het die Atlantis-polisie Dinsdagoggend 19 Mei 2026, omstreeks 07:45 gereageer op ‘n klagte van ‘n liggaam wat in die bos in die Ou Mamre/Darling-weg lê.

“Met die lede se aankoms op die toneel het hulle ‘n 21-jarige man gevind wat ‘n skietwond in sy gesig opgedoen het. Die slagoffer is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en geen arrestasies is nog gemaak nie,” het Twigg gesê.

‘n Moordsaak word ondersoek.

Volgens berigte het bure ‘n skoot net voor 22:00 op Maandagaand 18 Mei 2026 gehoor en Woensdagoggend op die liggaam afgekom.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan Crime Stop kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem gebruik.


Skieter kom in swart kar

Man sterf in straat ná kopskoot

MISDAADTONEEL: Cafda Village, Kaapstad: ‘n Man is Woensdagmiddag, 20 Mei 2026 deur die kop geskiet terwyl hy in die straat geloop.

Die voorval het omstreeks 14:40 op die hoek van 12de Laan en Schumann-straat, Cafda Village gebeur.

Volgens ‘n media skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, sersant Wesley Twigg, is Steenberg-polisie na die misdaadtoneel ontbied waar hulle die 28-jarige slagoffer met ‘n skietwond aan sy kop gevind het.

“Die slagoffer is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. Volgens berigte het hy in die pad geloop toe ‘n insittende vanuit ‘n swart voertuig op hom geskiet en in die kop getref het.

“Die motief vir die aanval is vermoedelik bendeverwant. Die verdagtes het van die toneel gevlug en is nog nie gearresteer nie.”

Mense met inligting kan Crime Stop kontak by 08600 10111 of die mobiele MySAPS-App anoniem gebruik.


Polisie vang vier, kry selfone in kar

Kapers se vryheid kortgeknip

MISDAADTONEEL: Khayelitsha, Kaapstad: Die oplettendheid  van lede van die Makhaza-misdaadvoorkomingseenheid het daartoe gelei dat ‘n gekaapte voertuig en vermoedelik gesteelde selfone teruggevind is.

Die lede was Dinsdag 19 Mei 2026 omstreeks 17:00 besig met operasies in Lindelaweg, Makhaza toe hulle ‘n silwergrys Renault met vier verdagte mans binne opgemerk het.

“Hulle het die motor gestop, dit deursoek en ses selfone gevind. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die motor by die Lingelethu-wes-polisiestasie as gekaap aangemeld is. Daar is ook vasgestel die vier verdagtes ‘n winkel in die Strand beroof het,” het Thembakazi Mpendukana van die Wes-Kaapse polisie se mediakantoor gesê.

Die verdagtes is gearresteer en word by die Makhaza-polisiestasie aangehou.


Lavender Hill-misdaad

Skieter tref meisie in rug

MISDAADTONEEL: Lavender Hill, Kaapstad: ‘n Tienermeisie is Maandag, 18 Mei 2026 tydens ‘n skieteryt uit ‘n kar gewond.

Die Steenberg-polisie het omstreeks 16:10 op ‘n klagte van ‘n skietvoorval in St. Bonifacestraat gereageer.

Thembakazi Mpendukana, ‘n media skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, het gesê die 15-jarige vroulike slagoffer het na ‘n nabygeleë winkel geloop toe ‘n wit VW Polo verbygery en begin skiet het.

Die slagoffer is in haar rug gewond en hospitaal toe geneem. ‘n Saak van poging tot moord word ondersoek en geen arrestasies is nog gemaak nie.

Enigiemand met inligting wat kan help met die ondersoek, word vriendelik versoek om Crime Stop te kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem te gebruik.


Doodgeskiet met haelgeweer en pistole

Tiener brutaal in Retreat vermoor

MISDAADTONEEL: Retreat, Kaapstad: ‘n Tienerseun is Maandagmiddag 18 Mei 2026 brutaal vermoor toe daar vanuit ‘n kar verskeie kere met ‘n haelgeweer en pistole op hom geskiet is.

Die polisie was gou op die toneel van die skietery in Blagden-straat. Foto: Via Facebook

Konstabel Ndakhe Gwala, ‘n media skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, sê inligting dui daarop dat die 15-jarige slagoffer op ‘n reling in Blagden-straat gesit het toe ‘n wit Kia Picanto hom nader.

“Die insittendes van die voertuig het met 9 mm-pistole en ‘n haelgeweer op die slagoffer begin skiet. Hy het veelvuldige skietwonde opgedoen en is op die toneel dood. Die motief vir die skietery word ondersoek en geen arrestasie is nog gemaak nie,” het konstabel Ndakhe gesê.


Vermoor in Hillview

Jongman uit kar doodgeskiet

MISDAADTONEEL: Hillview, Kaapstad: ‘n Jongman is Maandagaand 18 Mei 2026 doodgeskiet terwyl hy in ‘n straat in Hillview geloop het.

‘n Mediaskakelbeampte van die Wes-Kaapse Polisie, sersant Wesley Twigg, het gesê die 24-jarige man is omstreeks 21:00 in Potbergweg geskiet.

“Toe die polisie op die toneel aankom het hulle die slagoffer met skietwonde aan sy liggaam gevind. Volgens inligting het die slagoffer in die pad geloop toe ‘n wit voertuig langs hom stilhou en een van die insittendes op hom losbrand met ‘n vuurwapen. Die voertuig het daarna vanaf die toneel gevlug.

“Die motief vir die aanval is vermoedelik bendeverwant. Die Muizenberg-polisie ondersoek ‘n saak van moord,” het Twigg gesê.

Enigiemand met inligting oor hierdie voorval kan Crime Stop kontak by 08600 10111 of die mobiele MySAPS-App anoniem gebruik.


Twee gaan in, toe klap die skote

Jongman in huis vermoor

MISDAADTONEEL: Elsiesrivier, Kaapstad: ‘n Jongman is Maandagoggend, 18 Mei 2026 omstreeks 10:35 in sy huis vermoor toe twee skurke binnegegaan en hom geskiet het.

Die ambulans en polisie op die toneel waar ‘n jongman in sy huis vermoor is. Foto: Facebook

‘n Moordsaak is by die Elsiesrivier-polisiestasie oopgemaak na die voorval wat in Bourne-weg, Leonsdale, plaasgevind het, het Thembakazi Mpendukana van die Wes-Kaapse polisie se mediakantoor gesê.

Volgens berigte het twee onbekende mans die slagoffer se huis binnegegaan en begin skiet. Die polisie het op die toneel aangekom en die liggaam van ‘n 23-jarige man dood in die huis gevind.

Die omstandighede rondom hierdie voorval word tans ondersoek en geen arrestasie is nog gemaak nie, het Mpendukana gesê.


Operasies in Mfuleni, Bellville-Suid bring suksess

Twee vas oor dwelms, vuurwapen

MISDAADTONEEL: Bellville-Suid, Kaapstad: Tik, Mandrax en ‘n onwettige vuurwapen het gelei tot die arrestasie van twee mans in afsonderlike voorvalle.

Maandag 18 Mei 2026 omstreeks 00:30 het lede van Operasie Lockdown 3 ‘n perseel in Frank Louwlaan, Bellville-Suid deursoek nadat hulle inligting oor dwelms en vuurwapens ontvang het.

Die polisie het die plek deursoek en het net olnder 140g Tik, 35 Mandrax-tablette, ‘n halwe Mandrax-tablet en ‘n ongelisensieerde vuurwapen by die huis gevind.

‘n 43-jarige man is in gearresteer.

MFULENI: Lede verbonde aan Operasie Shanela 2 het Sondag, 17 Mei 2026 omstreeks 11:30 in Mfuleni gepatrolleer toe hulle ‘n verdagte man in Qogombastraat oplet.

Volgens die polisie het hulle besluit om hom te stop en te deursoek. Die polisie het 260g Tik na bewering op die 35-jarige gevind en hom in gearresteer.


Twee sterf in Parkwood

Skote begin vroeg klap op Kaapse Vlakte

MISDAADTONEEL: Parkwood, Kaapstad: Die nuwe week het skaars begin op die Kaapse Vlakte toe twee mans vroeg Maandagoggend, 18 Mei 2026, in Parkwood doodgeskiet is.

Volgens sersant Wesley Twigg van die Wes-Kaapse polisie se mediakantoor het die Grassy Park-polisie gereageer op ‘n klagte van ‘n skietery wat omstreeks 05:15 in Willow Walk, Parkwood plaasgevind het.

Twigg sê toe die polisie by die toneel aankom, het hulle twee mans van 26 en 35-jaar-oud aangetref met skietwonde aan hul liggame.

Die slagoffers is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.

 “Verslae dui daarop dat die slagoffers deur ‘n onbekende verdagte genader en geskiet is voordat die persoon van die toneel gevlug het. Die motief vir die aanval is vermoedelik bendeverwant. Grassy Park-speurders ondersoek twee aanklagte van moord,” het Twigg gesê.

Mense met enige inligting oor die voorval kan Crime Stop by 08600 10111 kontak of die MySAPS-App anoniem gebruik.