Atlantis Sekondêre Skool

 
 

Leerder in taxi doodgeskiet

Tragedie by skool

MISDAADTONEEL: Atlantis, Kaapstad. – ’n Graad 8-leerder en ’n taxibestuurder is Woensdagmiddag, 25 Februarie buite die Atlantis Sekondêre Skool doodgeskiet.

Die leerder was 14 jaar oud en die taxibestuurder 42.

Twee ander leerders is gewond en hospitaal toe geneem. Een van hulle is sedertdien uit die hospitaal ontslaan en die ander is stabiel. Die taxi was besig om leerders van die skool af huis toe te vervoer toe gewapende mans toeslaan.

In ‘n brief wat aan die ouers en voogde van Atlantis Sekondêre Skool gerig is, het die skoolhoof, mev. MJ Adonis, gesê dit is ‘n sensitiewe tyd vir almal wat aan die skool en die gemeenskap verbonde is.

Adonis het bevestig ‘n graad 8-meisie is dood, maar het mense gevra om nie te spekuleer nie. Sy het gesê die voorval is nie bendeverwant nie.

Die tragiese dood van die twee by die skool volg minder as 24-uur nadat twee mans by die Witsand-taxistaanplek, ook in Atlantis, doodgeskiet is. Hierdie voorval het op Dinsdag 24 Februarie 2026 om ongeveer 18:00 plaasgevind.

Enigiemand met inligting oor boegnoemde of enige misdaad kan Crime Stop by 08600 10111 kontak of inligting anoniem via die MySAPS app indien. Alle inligting sal met die strengste vertroulikheid hanteer word.

JONGSTE VERWIKKELING: Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê die Stad bied ‘n beloning van tot R100 000 aan vir inligting wat sal lei tot die arrestasie en vervolgin van diegene wat verantwoordelik is vir die voortslepende taxi-verwante moorde in Atlantis.

“Ons staan ​​saam met die vredeliewende inwoners van Atlantis wat nie moet ly weens die interne gevegte tussen taxibase nie. Ons treur diep saam met die families van die slagoffers, insluitend die 14-jarige graad 8-leerder wat op 25 Februarie 2026 tragies doodgeskiet is.

“Ek het die hulp van die Stad se veiligheids- en sekuriteitsondersoekeenheid aangebied om die ondersoek na die skietery in Atlantis te ondersteun.,” het JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit.

Anonieme wenke word aangemoedig: Skakel 24/7: 0800 00 6992 of pos: SSIMS.SSIUReporting@capetown.gov.zae