Slagoffer sê sy was sedert April 2026 aangehou

Vrou vlug uit mensehandel se kloue

MISDAADTONEEL: Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n moontlike slagoffer van mensehandel gered en ‘n verdagte gearresteer weens haar beweerde betrokkenheid by ‘n mensehandel-netwerk.

Volgens ‘n woordvoerder van die Direktoraat vir Prioriteit-misdaadondersoek (die Hawks), adjudant-offisier Zinzi Hani, is die 22-jarige slagoffer na bewering deur die 29-jarige verdagte via TikTok na Kaapstad gelok onder die valse voorwendsel dat sy ‘n werk as haarkapper sou kry.

Die jong vrou het in April 2026 ingestem, en die verdagte het reëlings getref en betaal vir al haar reisdokumente, paspoort en vliegkaartjies na Kaapstad.

“Met haar aankoms in Kaapstad is sy deur die verdagte opgetel en na ‘n hotel geneem. Ondersoeke het aan die lig gebring dat die verdagte die slagoffer se paspoort sowel as haar selfoon afgevat het.

“Sy het ook probeer om die slagoffer tot prostitusie te dwing, maar sy het geweier,” het Hani gesê.

Op Sondag, 13 September, het die slagoffer daarin geslaag om te ontsnap en na die Woodstock-polisiekantoor gehardloop, waar sy gehelp ​​is.

Die verdagte het ook na die Woodstock-polisiekantoor gegaan om navraag te doen oor die slagoffer se doen en late

“Sy is deur die slagoffer uitgewys en is onmiddellik deur ‘n SAPD-lid gearresteer. Die saak is daarna na die Hawks verwys vir verdere ondersoek,” het Hani gesê.



« (Previous News)



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*