Moordenaar het man geken wat hy verskeie kere steek
Stryery oor sigaret geld lei tot moord
UIT DIE HOF: ’n Man wat ’n vriend oor sigaret geld doodgesteek het, is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.

Die suksesvolle skuldig bevinding en vonnis van die 36-jarige Brian Klaase was te danke aan die ywerige en noukeurige ondersoek deur adjudant-offisier Elridge Losper, wat voorheen aan die Vioolsdrif-speurdiens verbonde was.
Klaase is vandeesweek in die streekhof op Springbok gevonnis vir die moord op die 25-jarige Reagan Austin Losper.
Die hof het gehoor dat Klaase en Reagan Losper mekaar geken het en albei in Vioolsdrif, naby die Namibiese grens, gewoon het. Op 27 April 2024 het ’n skelery naby ’n winkel in Vioolsdrif uitgebreek nadat Klaase geld geëis het wat hy aan die oorledene gegee het om sigarette te koop.
Volgens getuienis voor die hof het die beskuldigde kwaad geword toe die oorledene gesê het hy het nie geld nie. Klaase het ’n mes uitgehaal en die oorledene herhaaldelik gesteek.
Die oorledene het probeer om homself te verdedig en na die polisiestasie gevlug. Hy het op die N7-nasionale pad ineengestort en aan sy beserings beswyk.
AO Losper het deur middel van professionele en deeglike ondersoekwerk verseker dat deurslaggewende getuienis verkry is.
Die beskuldigde het erken dat hy nie uit selfverdediging opgetree het nie, dat sy lewe nie in gevaar was nie en dat sy optrede onwettig en strafbaar was.
Die distrikskommissaris van Namakwa, brigadier Schalk Andrews, het Losper geprys vir sy toewyding en uitstekende ondersoekwerk, wat bygedra het daartoe dat geregtigheid geskied het en die beskuldigde die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar tronkstraf opgelê is.
Related News
Two arrested in same street for guns
CRIME SCENE: Mitchells Plain, Cape Town: Two men have been arrested in the same streetRead More
Police attacked at murder scene
UPDATE! The South African Police Service (SAPS) have registered more cases for investigation: attack onRead More
