Sokker ster kom weer veilig by die huis aan

Speler se ‘ontvoering’ ondersoek

NASIONAAL: ‘n Professionele voetbal speler staar ‘n rooi kaart in die gesig omdat hy na bewering sy ontvoering gesimuleer het.

Die polisie in Mpumalanga ondersoek ‘n moontlike vals-ontvoering waarby die 27-jarige speler betrokke is.

Volgens die polisie het die speler se familie hom as vermis aangemeld en aangedui dat hy ontvoer is. Hy het egter later ongedeerd by die huis aangekom.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) dui hul ondersoek daarop dat die speler moontlik sy eie ontvoering gesimuleer het.

“Daar word verder beweer dat die speler se familie ‘n oproep van ‘n onbekende persoon ontvang het vanaf die speler se foon. Die oproeper het beweer dat die speler ontvoer is en ‘n losprys vir sy vrylating geëis.

“Bekommerd oor sy veiligheid, het die speler se familie Sondag, 5 Julie 2026 na die Witbank-polisiestasie gegaan en ‘n saak van ontvoering vir ‘n losprys aanhangig gemaak. Speurders is onmiddellik ontplooi om die slagoffer op te spoor.

“Later dieselfde middag het die speler egter veilig by die huis aangekom. Tydens opvolg ondersoeke en ondervraging deur speurders het dit aan die lig gekom dat geen losprys betaal is nie en die ontvoering blykbaar nooit plaasgevind het nie,” het die SAPD gesê.

Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, generaal-majoor Zeph Mkhwanazi, het beklemtoon dat gemeenskapslede op moet hou om vals misdade aan te meld.

“Sulke gedrag kom met gevolge. Wanneer valse verslae gemaak word, gebruik die polisie beperkte staatshulpbronne soos voertuie, personeel en tyd wat gekanaliseer kon word om te reageer op werklike gevalle waar mense se lewens in gevaar kan wees,” het Mkhwanazi gesê.






Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*