Twee sterf, sewe gewond toe aanvallers losbrand
Deurbraak in Wesbank-skietery
JONGSTE! Speurders van die anti-bende-eenheid, wat reg deur die bank werk sedert ‘n noodlottige skietvoorval in Wesbank, Malmesbury, het nog twee verdagtes van 26 en 32-jaar-oud, gearresteer.

Dit bring die aantal arrestasies op drie te staan, dae nadat die aanval plaasgevind het.
Die eerste verdagte van 27-jaar-oud, het Dinsdag, 14 Julie 2026 in die Malmesbury-landdroshof verskyn. Die twee jongste verdagtes sal na verwagting Woensdag, 15 Julie 2026 in die hof verskyn.
Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) dui voorlopige ondersoeke daarop die drie verdagtes is gekoppel aan ‘n plaaslike bende wat in die Malmesbury-gebied bedrywig is.
Volgens die SAPD is ‘n agste persoon ook sedert die voorval by die gewondes gevoeg.
“Ondersoekbeamptes gaan voort om elke beskikbare leidraad op te volg terwyl hulle werk om agter die kap van die byl te kom. Die vinnige vordering wat in die saak gemaak is, weerspieël die vasberadenheid van die ondersoekspan om diegene wat verantwoordelik is te identifiseer en verseker dat hulle voor die howe gebring word,” het die SAPD gesê.
MISDAADTONEEL: Wesbank, Malmesbury: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n 27-jarige verdagte gearresteer in verband met ‘n massaskietery hier.
Die verdagte is Maandag, 13 Julie 2026 gearresteer en sal na verwagting Dinsdag 14 Julie 2026 in die Malmesbury-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met die skiet-aanval op nege mense.
Die polisie ondersoek twee aanklagte van moord en sewe aanklagte van poging tot moord ná die skietery in die vroeë oggendure van Sondag, 12 Julie 2026.
Die polisie het omstreeks 04:40 op die voorval in Godetia-straat gereageer, waar hulle die liggame van ‘n 22-jarige man en ‘n 21-jarige vrou gevind het wat noodlottige skietwonde opgedoen het.
Ses volwassenes en ‘n baba is gewond en in die hospitaal opgeneem vir mediese behandeling. Die baba is later na die Rooi Kruis-kinderhospitaal oorgeplaas. Die gewondes is in ‘n stabiele toestand, het die SAPD gesê.
“Voorlopige ondersoeke dui daarop dat ‘n groep mense buite ‘n woning was toe onbekende verdagtes op hulle losgebrand het. Bewyse op die toneel dui daarop dat meer as een aanvaller moontlik by die aanval betrokke was.
“Die moontlikheid dat die voorval bendeverwant is, word ondersoek.
“Na die voorval is polisiëring in die gebied versterk om verdere geweld en enige moontlike vergeldingsaanvalle te voorkom,” het die SAPD gesê.
Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word vriendelik versoek om Stop Misdaad te kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem te gebruik.
Related News
Arrest in Wesbank mass shooting
UPDATE! Anti-Gang-Unit detectives, who have been working around the clock since a fatal shooting incidentRead More
Mandrax van R2,1-m op N2 gevind
Jongste! Die 60-jarige Bradley Cecil Jasmin het Maandagoggend, 13 Julie 2026, in die hof verskynRead More
