Volgehoue aksie teen bendes bring sukses
Polisie arresteer 3 vir massa-skietery
MISDAADTONEEL: Wesbank, Malmesbury: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n groot deurbraak gemaak ná ‘n massa-skietvoorval op 24 Junie 2026.

Volgens die SAPD gaan sy lede onverpoos voort om verdagtes wat betrokke is by bendeverwante geweld op te spoor en het dit positiewe resultate opgelewer met die arrestasie van drie verdagtes in verband met ‘n dubbele moord en veelvuldige pogings tot moord in Wesbank.
“Die arrestasies volg op ‘n intensiewe ondersoek deur speurders verbonde aan die Wes-Kaapse Anti-Bende-eenheid ná die skietvoorval waarin Ralph Andrew Philander (57) en Riaan Henrico Goliath (41) noodlottig gewond is. Drie ander slagoffers het skietwonde tydens die aanval opgedoen en is in die hospitaal opgeneem vir mediese behandeling,” het die SAPD gesê.
Die verdagtes, onderskeidelik 25, 26 en 31-jaar-oud, is gearresteer op aanklagte van moord en poging tot moord en sal Maandag, 20 Julie 2026 in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die voorval bendeverwant was.
In ‘n aparte operasie teen bendeverwante misdaad in Wesbank, het die Anti-Bende-eenheid en Misdaadintelligensie ‘n perseel in Tintinkie-straat, Malmesbury, deursoek.
Die SAPD sê hulle het ‘n gas-geweer en ‘n nagemaakte rewolwer hier konfiskeer. By verdere inspeksie het die polisie ‘n .22 kaliber patroon in die loop van die nagemaakte vuurwapen ontdek. Geen arrestasies is in hierdie stadium in verband met die ontdekking gemaak nie.
Die waarnemende provinsiale kommissaris van die Wes-Kaap, generaal-majoor Luyanda Damoyi, het die lede geprys vir hulle ondersoekwerk en arrestasies.
Damoyi het ook sy waardering uitgespreek teenoor die gemeenskap wat met inligting vorendag gekom en die polisie bygestaan het in hul pogings om bendegeweld uit te roei en veiliger woonbuurte te skep.
Lees ook: Nóg ‘n massaskietery ruk Kaap – Crime Scene Report
Related News
Arrests in Wesbank mass shooting
CRIME SCENE: Wesbank, Malmesbury: The South African Police Service (SAPS) have made a major breakthroughRead More
Aanvalsgewere by 2 huise gevind
MISDAADTONEEL: Hillview, Kaapstad: Die polisie het Donderdag 16 Julie 2026 drie verdagtes gearresteer nadat hulleRead More
