Man vas oor sewe onwettige vuurwapens

Polisie maak wapen-deurbraak

MISDAADTONEEL: KwaZulu-Natal: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het sewe onwettige vuurwapens teruggevind en ‘n 42-jarige verdagte gearresteer.

Die verdagte is in die vroeë oggendure van Dinsdag, 4 Augustus 2026 by die Bahulazi-reservaat in Nhlanhleni, KwaZulu-Natal, gearresteer vir die besit van die ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Die arrestasie volg op ‘n intelligensie-gedrewe operasie wat deur die Umzinyathi-distrik misdaadintelligensie-eenheid en die Newcastle Openbare Orde Polisiëring-eenheid (POP) uitgevoer is. Die verdagte word ook daarvan beskuldig dat hy vuurwapens uitgehuur het aan individue wat verbind word met veediefstal.

Die polisie het die perseel deursoek en drie gewere (‘n .303-geweer, ‘n Mosin-Nagant-geweer en ‘n SKS 7.62-geweer) sowel as vier pistole teruggevind.

Volgens die polisie sal die vuurwapens aan ballistiese ondersoeke onderwerp word om te bepaal of dit gebruik is in die pleging van enige misdade binne die land.

Die distrikskommissaris van Umzinyathi, generaal-majoor Francis Slambert, het die lede wat betrokke was by die suksesvolle operasie geprys en gesê SAPS sal nie ongelisensieerde vuurwapens in die hande van misdadigers duld nie.



« (Previous News)



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*