Man in Namakwa vas oor Mandrax tablette

Gatslag vir dwelm-smousery

MISDAADTONEEL: Nieuwoudtville, Noord-Kaap: ‘n Vermeende dwelmsmokkelaar is gearresteer nadat hy na bewering met ‘n besending Mandrax-tablette betrap is.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het gesê ‘n polisiebeampte van Nieuwoudtville was Woensdag, 5 Augustus 2026 omstreeks 18:35 op roetine patrollies toe hy ‘n verdagte wit motorvoertuig opgemerk en afgetrek het.

Die polisie het die motor deursiek en ‘n swart sak met vermeende Mandrax-tablette, met ‘n geraamde straatwaarde van R8 000, daarin gekry..

‘n 38-jarige manlike insittende het eienaarskap van die dwelms erken en is onmiddellik gearresteer op ‘n aanklag van handel in dwelms. Hy sal na verwagting binnekort in die Calvinia-landdroshof verskyn.

Die polisie in die Namakwa-distrik het gesê hulle bly vasberade om die plaag van dwelmhandel en -misbruik te bekamp  deur die voortgesette uitvoering van Operasie Shanela 2.

Die Distrikskommissaris van Namakwa, Brigadier Schalk Andrews, het die polisielid geprys vir sy waaksaamheid en proaktiwiteit in die stryd teen dwelmverwante misdaad.

 “Ons sal voortgaan om dwelmhandelaars en kriminele netwerke te teiken deur middel van intelligensie-gedrewe operasies wat daarop gemik is om onwettige dwelms uit gemeenskappe te verwyder,” het Andrews gesê.



« (Previous News)



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*