Twee gewelddadige mans gaan lank agter tralies sit

Dié speurder speel nie met sake

UIT DIE HOF: Twee lang vonisse vir twee gewelddadige misdadigers, binne slegs twee dae.

Dié uitmuntende sukses is verseker deur ‘n speurder van die Fraserburg-polisie in die Noord-Kaap.

Op Dinsdag, 15 September 2026, het speur-sersant Ursula van Wyk ‘n tronkstraf van 18 jaar verseker vir ‘n beskuldigde in ‘n poging-tot-moord-saak in die Fraserburg-streekhof.

Op Kersdag, 25 Desember 2025, is die beskuldigde, More-Aine Andreas (27), deur die klaer se tante uit ‘n woning gesit. Die beskuldigde het geëis dat die klaer, wat sy lewensmaat was, saam met hom moet gaan.

Toe sy weier, het Andreas gewelddadig geraak en haar met bakstene gegooi, wat ernstige en lewensgevaarlike beserings veroorsaak het.

Hy het van die toneel gevlug en is op 29 Desember 2025 gearresteer. Hy het die volgende dag in die hof verskyn; borgtog is geweier en hy het in aanhouding gebly tot hy Dinsdag gevonnis is.

Speurder Van Wyk het Woensdag, 16 September 2026, na dieselfde hof teruggekeer, waar sy ‘n lewenslange vonnis verseker het vir ‘n beskuldigde wat uit op parool was toe hy ‘n gevang is vir poging tot moord.

Die 40-jarige Hendrik Blou, ook bekend as “Platkop”, is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir ‘n voorval wat op 23 Februarie 2024 plaasgevind het.

Die slagoffer, die 24-jarige Dori-Ann Waterboer, het haar verhouding met die beskuldigde beëindig, maar terwyl sy van hom weggestap het, het Blou haar aangeval en herhaaldelik met ‘n mes gesteek, wat veroorsaak het dat sy haar bewussyn verloor het.

Waterboer het haar bewussyn in die Calvinia-hospitaal herwin, waar sy mediese behandeling ontvang het vir veelvuldige steekwonde aan haar rug, kop, gesig en albei oë. Sy het gevolglik haar sig in haar regteroog verloor.

Die provinsiale kommissaris van die Noord-Kaap, luitenant-generaal Koliswa Otola, het Van Wyk geprys vir haar toewyding, deursettingsvermoë en uitstekende ondersoekwerk.

“Speurder-sersant Van Wyk se vasberadenheid om hierdie sake tot die einde deur te voer, wys ons speurders is toegewyd om geregtigheid vir slagoffers van geweldsmisdaad te verseker,” het Otola gesê.



« (Previous News)



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*