Fetus tussen vullis gekry

Werker maak gru-vonds

MISDAADTONEEL: Vrygrond, Kaapstad: Skaars ‘n dag na die ontdekking van ‘n pasgebore baba in Lotusrivier, is nog ‘n gru-ontdekking, Maandagoggend 4 Mei 2026 gemaak.

Volgens Kaptein FC van Wyk van die Wes-Kaap-polisie se mediakantoor, is die polisie na Vrygrond, naby Muizenberg, ontbied waar ‘n werker van die Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP) ‘n fetus tussen vullis opgemerk het.

Die baba is in ‘n drein in Lotusrivier gevind. Foto: Via WhatsApp

Die werker was besig om ‘n oop stuk veld in Vrygrondlaan met ‘n hark skoon te maak toe sy die fetus opmerk.

Die Stad Kaapstad se raadslid vir die gebied, Mandy Marr, het die voorval as ‘n absolute verwoestende en sinnelose tragedie beskryf.

“My hart gaan uit na die hele gemeenskap terwyl ons almal oor hierdie pynlike verlies treur,” het Marr via ‘n WhatsApp-groep gesê.

‘n Plaaslike gemeenskapsaktivis het die volgende op Facebook geplaas: “Nog ‘n baba gevind tussen die vullis in ons gemeenskap in Vrygrondlaan, Vrygrond. Moeders, ondersteun asseblief julle kinders gedurende hierdie tyd, of volwassenes as julle weet julle is swanger en wil nie meer die baba hê nie, praat met iemand by die kraameenheid of organisasies in julle gemeenskap. Dit kan nie aangaan nie. Babas word weggegooi omdat julle onverantwoordelik is/onbeskermde seks het. Voorbehoedmiddels is gratis vir enigiemand, jonk en oud. Daar is geen verskoning vir hierdie gedrag nie. As julle iets weet, praat uit!! Stilbly help niemand nie.”

Muizenberg-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geregistreer. Enigiemand met inligting word vriendelik versoek om Crime Stop te kontak by 08600 10111.

●In die Lotusrivier-voorval is die liggaam van ‘n pasgebore babadogtertjie Sondagmiddag 3 Mei 2026 in ‘n stormwaterdrein in gevind. Die baba se 31-jarige ma is Saterdag 2 Mei 2026 gearresteer nadat die baba as vermis aangemeld is.Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.



« (Previous News)



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*