Drie vas ná trok by grenspos onderskep word

R1-miljard gatslag teen dwelms

MISDAADTONEEL: Beitbridge-grenspos: Die Suid-Afrikaanse grensbestuursowerheid (BMA) het Woensdag, 28 Mei 2026 ‘n enorme gatslag van R1 miljard teen dwelmsmouse geslaan.

BMA-kommissaris, dr. Michael Masiapato, het grenswagte en wetstoepassers geprys ná die suksesvolle onderskepping van die massiewe besending dwelms met ‘n straatwaarde van sowat R998,2 miljoen.

Die deurbraak het begin toe grenswagte ‘n trok wat van Malawi na Suid-Afrika onderweg was, tydens ‘n stop-en-deursoek-operasie afgektrek is.

Die trok is deur die vragskandeerder geïnspekteer, waartydens verdagte stowwe opgemerk is, sê die BMA.

Beamptes het toe die trok fisies deursoek, ‘n proses wat ongeveer agt ure geduur het. Tydens die deursoeking het beamptes ‘n stof ontdek wat geïdentifiseer is as Metaqualone (ABBA), wat algemeen gebruik word in die vervaardiging van Mandrax.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se K-9-eenheid, tesame met die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI), algemeen bekend as die Valke, is onmiddellik ingeroep om te help met die verwerking van die misdaadtoneel en ondersoeke.

Owerhede het bevestig ongeveer 713 000-gram ABBA is in die trok gevind.

Drie verdagtes is gearresteer en sal in die hof verskyn op aanklagte wat verband hou met smokkel in dwelms.

Kommissaris Masiapato het gesê dié onderskepping demonstreer weereens die doeltreffendheid van intelligensie-gedrewe grensveiligheidsoperasies en die belangrikheid van samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe.






Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*