Valke

 
 

Drie vas ná trok by grenspos onderskep word

R1-miljard gatslag teen dwelms

MISDAADTONEEL: Beitbridge-grenspos: Die Suid-Afrikaanse grensbestuursowerheid (BMA) het Woensdag, 28 Mei 2026 ‘n enorme gatslag van R1 miljard teen dwelmsmouse geslaan.

BMA-kommissaris, dr. Michael Masiapato, het grenswagte en wetstoepassers geprys ná die suksesvolle onderskepping van die massiewe besending dwelms met ‘n straatwaarde van sowat R998,2 miljoen.

Die deurbraak het begin toe grenswagte ‘n trok wat van Malawi na Suid-Afrika onderweg was, tydens ‘n stop-en-deursoek-operasie afgektrek is.

Die trok is deur die vragskandeerder geïnspekteer, waartydens verdagte stowwe opgemerk is, sê die BMA.

Beamptes het toe die trok fisies deursoek, ‘n proses wat ongeveer agt ure geduur het. Tydens die deursoeking het beamptes ‘n stof ontdek wat geïdentifiseer is as Metaqualone (ABBA), wat algemeen gebruik word in die vervaardiging van Mandrax.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se K-9-eenheid, tesame met die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI), algemeen bekend as die Valke, is onmiddellik ingeroep om te help met die verwerking van die misdaadtoneel en ondersoeke.

Owerhede het bevestig ongeveer 713 000-gram ABBA is in die trok gevind.

Drie verdagtes is gearresteer en sal in die hof verskyn op aanklagte wat verband hou met smokkel in dwelms.

Kommissaris Masiapato het gesê dié onderskepping demonstreer weereens die doeltreffendheid van intelligensie-gedrewe grensveiligheidsoperasies en die belangrikheid van samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe.


Besteel na bewering party se werkers

Valke vang MK Hoofsweep

MISDAADTONEEL: Kaapstad: Die 46-jarige Hoofsweep van die uMkhonto weSizwe (MK) Party, Mmabatho Mokoena-Zondi, is Donderdagoggend 28 Mei 2026 deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (die Valke) gearresteer in verband met bedrog.

Mmabatho Mokoena-Zondi Foto: parliament.gov.za

Daar word beweer dat die verdagte gedurende Augustus 2024 tot Desember 2024 vier individue as navorsers by die party aangestel het. Verder word beweer sy het tydens hul diens betalings geëis onder die voorwendsel dat dit ‘n bydra is tot die regskoste van die MK-president, Jacob Zuma.

Sy het na bewering tussen 50 en 60%, in totaal ongeveer R233 317, van hul salarisse oor die tydperk geneem.

Mokoena-Zondi sal na verwagting haar eerste verskyning Donderdag 28 Mei 2026 in die Kaapstadse landdroshof maak.


Valke, polisie red Egiptenaar

Twee vas vir mensehandel

Die elite Suid-Afrikanse polisie eenheid, die Valke, het ‘n 49-jarige vermeende menshandelaar, Emaed Ibrahim Hikal, agter tralies gesit.

Die Valke se George-gebaseerde ernstige misdaad ondersoek-span is deur die Bredasdorp-polisie bygestaan ​​nadat hulle inligting ontvang het oor ‘n moontlike mensehandel slagoffer  in Oudtshoorn.

Die Valke se ondersoek het getoon Emaed het die slagoffer na bewering vanaf Egipten na  Suid-Afrika gelok omdat hy werkloos was. Die verdagte het na bewering aangebied om die slagoffer in Suid-Afrika in diens te neem.

Dinge het egter lelik uitgedraai toe die verdagte die slagoffer se reisdokumente konfiskeer, hom na bewering sonder betaling laat werk en aangerand.

Eamed het op 28 April 2026 sy eerste verskyning in die Oudtshoorn-landdroshof gemaak. Die saak is uitgestel tot 30 April 2026.

Hy is die tweede verdagte wat in die saak gearresteer is. Amado Hikal (27), is op 24 Maart 2026 gearresteer en het reeds in die hof verskyn. Amado sal ook weer op 30 April 2026 verskyn vir ‘n borgtogaansoek.    


Smokkelaar kry drie jaar in die tronk

Staat vat dwelm-voertuig

IN DIE HOF: Die Kaapstadse Hooggeregshof het ‘n finale batebeslagleggingsbevel aan die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag se batebeslagleggingseenheid toegestaan ​​vir ‘n voertuig wat gebruik is om dwelms te vervoer.

Volgens ‘n mediaverklaring deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (beter bekend as die Valke) het die voorval waarin die bestuurder met dwelms gevang is, presies11 jaar gelede, op 16 Maart 2015, plaasgevind.

Die hofbevel is op 19 Februarie 2026 uitgereik en op 16 Maart 2026 aan die Valke oorhandig.

Volgens die Valke het die SA Narkotika-buro (SANAB) saam met die Paarl K9-eenheid opgetree nadat daar inligting ontvang is van ‘n voertuig wat dwelms vanaf Gauteng na Kaapstad vervoer. Die voertuig is by die Huguenot Plaza afgetrek en deursoek.

Meer as 100 Mandrax- en 10 000 ecstasy-tablette, ter waarde van meer as R6,4 miljoen, is in die voertuig, ‘n Isuzu-bakkie met versteekte kompartemente, gevind. Die bestuurder, Ruben Naicker, is in hegtenis geneem vir dwelmhandel.

Hy is op 4 Februarie 2025 tot drie jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.