Munisipale werkers maak gru-vonds

Baba soos vullis weggegooi

MISDAADTONEEL: Swellendam, Suid-Kaap: Personeel van die munisipaliteit hier het Woensdag, 10 Junie 2026 ‘n gru-ontdekking gemaak toe hulle op die liggaam van ‘n pasgebore baba, versteek in ‘n swart vullissak, afgekom het.

Anneleen Vorster, die Munisipale Bestuurder, het in ‘n mediaverklaring gesê ‘n vullisverwyderingspan het die baba-lykie ontdek terwyl hulle besig was met roetinepligte in Sneuvlokkiestraat, Railton.

“Al die nodige prosesse om die omstandighede rakende hierdie tragiese voorval te bepaal, se gevolg word. Die nodige berading is vir die vullisverwyderingspan gereël na afloop vann hierdie traumatiese voorval.

“Die munisipaliteit deel ons innige simpatie met inwoners, veral die mense in die onmiddellike naburige omgewing. Ons moedig inwoners aan om gebruik te maak van enige beskikbare trauma-ondersteuning gedurende hierdie moeilike tyd,” het Vorster gesê.

Volgens adjudant-offisier Christopher Spies, ‘n media skakelbeampte vir die Suid-Kaap-polisie, is ‘n dossier vir die verberging van geboorte geopen nadat die liggaam van ‘n baba agter ‘n vullis-trok ontdek is.

“Swellendam-polisielede is omstreeks 12:50 na die toneel ontbied . Met hul aankoms het die trok bestuurder die lede na ‘n sak verwys waarin die liggaam tussen vullis gevind is. Die baba is deur paramedici op die toneel dood verklaar,” het Spies gesê.

Enigiemand met inligting wat die polisie kan help, kan die ondersoekbeampte, sersant Nkululeko Qolo van die Swellendam SAPD, kontak by 028 514 8100 of Crime Stop by 08600 10111.






Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*