Man leef saam met 12-jarige meisie as sy vrou

Mensehandel: Zimbabwiër sit lewenslank

UIT DIE HOF: ‘n Zimbabwiese man wat met ‘n 12-jarige meisie as sy vrou in Robertson gewoon het, is deur die Worcester-streekhof tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

David Chauke (33) is Maandag, 14 September 2026, gevonnis vir mensehandel en ander verwante oortredings nadat hy op 16 April 2026 skuldig bevind is.

Chauke is in November 2020 deur die Valke gearresteer nadat die polisie inligting ontvang het oor die 12-jarige meisie wat saam met ‘n volwasse man as sy vrou woon.

Hy het Maandag lewenslank in die tronk gekry op die aanklag van mensehandel. Hy het ook 5 jaar tronkstraf op ‘n aanklag van ontvoering gekry; lewenslank vir verkragting, 15 jaar vir seksuele uitbuiting van kinders en 12 maande vir oortreding van die Wet op Immigrasie.

Die vonnisse wat vir die laaste vier aanklagte, soos hierbo genoem, opgelê is, sal samelopend met die vonnis vir mensehandel uitgedien word. Die beskuldigde se naam is in die Nasionale Register vir Seksoortreders opgeneem.

Die Valke se provinsiale hoof, generaal-majoor Solomon Makgato, het die multidissiplinêre span, bestaande uit die Valke, die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Interpol, die SAPD se Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksoortredings (FCS) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), geprys oor hoe hille saamgewerk het tot die sukses van die saak.

“Die uitbuiting van ons jong kinders deur geharde misdadigers sal nooit geduld word nie, en ons sal verseker dat ons ons grondwetlike mandaat nakom om ons toekomstige geslag te beskerm,” het Makgato gesê.






Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*