Valke op spoor van tweede verdagte
Man (59) vas vir mensehandel, verkragting
MISDAADTONEEL: Milnerton, Kaapstad: ‘n 59-jarige man het Donderdag, 18 Junie 2026 in die Kaapstadse landdroshof verskyn op aanklagte van mensehandel, verkragting en oortreding van die Wet op Kubermisdade.

Die beskuldigde is Woensdag 17 Junie 2026 deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaad-ondersoek (die Valke) by sy huis gearresteer nadat ‘n opsporingsoperasie uitgevoer is.
Volgens ‘n woordvoerder van die Valke, adjudant-offisier Zinzi Hani, is ‘n daaropvolgende deursoeking by die perseel uitgevoer om ‘n vuurwapen, wat vermoedelik in die pleging van die misdryf gebruik is, en ander bewysstukke op te spoor.
Die saak is tot 25 Junie 2026 uitgestel vir ‘n borgtogaansoek. Die beskuldigde bly in aanhouding.
Volgens Hani het die slagoffer verklaar sy is tussen 15 Oktober 2025 en November 2025 deur ‘n vriend (die werwer), wat sy op Facebook ontmoet het, oortuig om saam na ‘n lodge in Milnerton te gaan.
“Met haar eerste aankoms het die werwer haar na bewering aan ‘n man oorhandig wat haar na een van die kamers geneem het. Die verdagte het haar na bewering met ‘n vuurwapen gedreig en homself op haar afgedwing.
“Hy het toe na bewering naak foto’s van haar geneem en haar verkrag. Die verdagte het vir die slagoffer gesê wanneer hy haar vra om na die lodge te kom, sy haar nie moet teësit nie anders gaan hy haar naakfoto’s op sosiale media plaas.
“Die polisie se ondersoek het aan die lig gebring dat die slagoffer by twee geleenthede toegegee het om met die verdagte te ontmoet, waar hy haar na bewering herhaaldelik verkrag het. By die derde geleentheid het sy geweier om hom te ontmoet,” het Hani gesê.
Dit is toe dat hy na bewering vir die slagoffer haar naakfoto’s gestuur en gedreig het om die foto’s op die internet te plaas. Sy is later deur haar broer gekontak wat haar meegedeel het dat hy haar naakfoto’s op Facebook gesien het. Hy het haar gevra wat gebeur het.
‘n Saak van mensehandel en verkragting is in November 2025 aanhangig gemaak.
Tydens die ondersoek is een van die verdagtes deur die klaer geïdentifiseer. ‘n Lasbrief vir arrestasie sowel as ‘n lasbrief vir deursoeking en beslaglegging is deur die hof gemagtig, volgens Hani.
‘n Tweede verdagte is steeds op vrye voet, maar die ondersoek duur voort en ‘n arrestasie kan binnekort volg.
Related News
Vrou spoorloos ná sy inboek
JONGSTE! ‘n Vrou wat in Mei 2026 as vermis aangemeld is, is reeds op 29Read More
Help find missing woman
UPDATE! A woman who was reported missing in May 2026, died of natural causes onRead More
