Skaars 3 weke oud en boewe slaan toe

Vandale beskadig Prinses-staproete

Die nuwe Prinsesvlei-staproete in Retreat is skaars ‘n paar weke oud, maar vandale het reeds aansienlike skade daaraan berokken.

Volgens die Stad Kaapstad het verdagtes hout-panele by een van die voetbrûe langs die 4,23km-lange sirkulasieroete in die vroeë oggendure van Maandag 30 Junie verwyder. Stadswagte het die verdagtes op heterdaad betrap, maar hulle het van die toneel gevlug en die gesteelde hout agtergelaat.

“Dit is baie teleurstellend dat infrastruktuur by Prinsesvlei geteiken is net drie weke nadat hierdie gemeenskapsfasiliteit geopen is. Ons Ontspannings- en Parke-afdeling doen wat hulle kan, binne die raamwerk van beskikbare hulpbronne, om ‘n sekerheidsteenwoordigheid op die perseel te handhaaf.

“Maar Prinsesvlei is ‘n oop ruimte en die roete is etlike kilometers lank, daarom is die gemeenskap se waaksaamheid belangrik,” het die Stad se burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, gesê.

Dit het ook sedertdien aan die lig gekom dat verskeie aanwysing borde beskadig is.

Die Stad het R10,2 miljoen in die roete belê en werk saam met die Prinsesvlei-forum en plaaslike gemeenskappe.

“Ons veroordeel sulke optrede ten sterkste. Die verantwoordelikheid berus by elkeen van ons om gemeenskapsbates te bewaak vir die genot van almal,” het raadslid Higham bygevoeg.



« (Previous News)



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*