Stad se polisie slaan slag teen dwelmhandel

‘n Ton dagga gekonfiskeer

MISDAADTONEEL: Kaapstad: Die Stad se wetstoepassers het die afgelope week groot hoeveelhede dwelms gekonfiskeer en daarmee smokkelaars ‘n groot gatslag toegedien.

‘n Ton dagga is in Elsiesrivier gevind.

In die jongste voorval Maandagoggend, 16 November 2026, het beamptes van die Law Enforcement Advancement Programme (LEAP) ‘n voertuig, waarvan die vensters met swart sakke bedek was, in Owen-weg, Elsiesrivier afgetrek.

Die Stad het in ‘n verklaring gesê die beamptes het verskeie groot sakke dagga gevind, wat na raming net oor 1 000 kilogram geweeg het.

“Die twee insittendes is gearresteer en na die Elsiesrivier-polisiestasie geneem,” het die Stad gesê.

Sondagaand, 15 November 2026, het die Metro polisie se Taktiese Reaksie-eenheid 8,4kg dagga in Bellville-Suid gekonfiskeer en twee verdagtes gearresteer.

“Die beamptes het vroeër inligting ontvang oor ‘n besending dagga wat in die gebied afgelwer is, en is na Lilac Crescent, waar hulle ‘n perseel deursoek het.

“Die huiseienaar het gevra of hy self die items kon gaan haal en het met verskeie sakke dagga te voorskyn gekom met sommige daarvan wat ongeveer 1kg geweeg het.

“Hy het die beamptes toe ingelig dat sy medepligtige nog dagga by ‘n nabygeleë woning stoor. Die medepligtige het ook verskeie sakke dagga wat versteek was, uit gaan haal,” het die Stad gesê.

Albei mans, onderskeidelik 29 en 35-jaar-oud, is gearresteer vir die besit van dagga.

Op Woensdag, 11 November 2026, het die Metro poilisie se Bende- en Dwelm-taakspan meer as 1,5 kilogram Tik, met ‘n geraamde straatwaarde van R1 miljoen, asook byna 300 Mandrax-tablette, met ‘n geraamde straatwaarde van R14 500, gevind.

In totaal het die Metropolitaanse polisie 124 verdagtes gearresteer en 6 649 boetes uitgereik.

Volgens die Stad het die Metro polisie ook agt gesteelde en/of gekaapte voertuie, agt vuurwapens, twee nagemaakte vuurwapens en 194 rondtes ammunisie teruggekry. Op die paaie het verkeersbeamptes 82 arrestasies gemaak met 73 weens bestuur onder die invloed van drank, vyf weens roekelose en nalatige bestuur en vier op verskeie ander aanklagte.

“Die publiek word daaraan herinner om voorvalle en noodgevalle, of enige verdagte en/of kriminele aktiwiteite, by die openbare noodkommunikasie-sentrum (PECC) aan te meld by 021-480 7700, of gebruik te maak van die Veiligheid en Sekuriteit-funksie op die City App.



(Next News) »



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*