Man in arres oor poging tot moord in Elsiesrivier

Polisie vang ou gou ná skietery

MISDAADTONEEL: Elsiesrivier, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Vrydagoggend 29 Mei 2026 blitsvinnig reageer om ‘n verdagte in ‘n poging tot moord saak agter tralies te sit.

‘n Media skakelbeampte van die Wes-Kaapse polisie, Kaptein Frederick C. Van Wyk, het gesê ‘n skietvoorval het in 12de-Laan, Leonsdale, plaasgevind.

“Die slagoffer is na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas vir behandeling. Terwyl speurders op die toneel was, is inligting ingesamel en die 37-jarige verdagte is geïdentifiseer.

“Lede van Operasie Lockdown 3 is versoek om te help die verdagte opspoor. Die inligting is opgevolg en lede het na ‘n adres in Nassau Court, 14de Laan, Leonsdale, gegaan waar die verdagte gearresteer is.

“Die vuurwapen wat vir die misdaad gebruik is, is nog nie teruggevind nie,” het Van Wyk gesê.

Bonteheuwel: Op Saterdag 30 Mei 2026 om 01:30 het Operasie Lockdown 3 lede ‘n 41-jarige man by ‘n huis in Pendoringstraat gearresteer vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen, ammunisie en dwelms.

Volgens Van Wyk was hulle besig met ‘n stop-en-deursoek-operasie toe hulle die verdagte man oplet. Hulle het hom voorgekeer en deursoek en in besit van ‘n 9 mm-pistool met nege rondtes ammunisie, drie Mandrax-tablette, drie halwe Mandrax-tablette, fyngemaakte Mandrax, sewe sakkies Tik kontant betrap.

Hy het hom teen die arrestasie verset, wat gelei het tot ‘n besering aan sy arm. Hy is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling en later by die Bishop Lavis polisiestasie ingeboek.






Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*