Kaapstad misdaad
Verdagte ook gearresteer oor nagemaakte vuurwapens
Polisie slaan hard teen dwelms
MISDAADTONEEL: Delft, Kaapstad: Vier mense – twee mans en twee vroue – is gearresteer op aanklagte wat verband hou met dwelms en onwettige vuurwapens.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het lede verbonde aan Operasie Prosper – wat in die Delft ontplooi is om die voortdurende vuurwapengeweld, onwettige dwelmhandel en afpersing te bekamp – die arrestasies op Dinsdag, 22 September 2026, uitgevoer.
Die polisie het inligting opgevolg oor onwettige aktiwiteite in Hodna-straat, Delft.
“Hulle het ‘n 38-jarige man op die perseel deursoek en hy is in besit van ‘n 9mm-pistool, 45 rondtes ammunisie en 188 Mandrax-tablette gevind. Hy is op die toneel gearresteer.
“Later het hulle inligting opgevolg oor dwelmaktiwiteite by ‘n perseel in Sandriver-singel, Leiden. ‘n 47-jarige man is gearresteer vir die besit van twee namaak-vuurwapens en 40 sakkies tik,” het die SAPD gesê.
‘n 39-jarige vrou is later by ‘n perseel in Verlore-straat, Leiden, Delft, gearresteer nadat sy deursoek is en na bewering in besit van 53 sakkies Tik en ‘n onbekende hoeveelheid Tik wat nog verpak moes word, betrap is.
Die SAPD het gesê hulle het ook inligting opgevolg oor ‘n vrou wat dwelms verkoop by ‘n perseel in Mahli-straat, N2 Gateway, Delft. ‘n 46-jarige vrou is na bewering in besit van 420 sakkies Tik gevind en gearresteer.
KRAAIFONTEIN: SAPD-lede wat in Scottsdene, Kraaifontein, patrollie gedoen het, het inligting opgevolg dat iemand drank sonder ‘n lisensie verkoop. Met hul aankoms by die perseel in Bontebok-straat het hulle ‘n groot hoeveelheid alkohol gevind.
Toe die huiseienaar gevra is vir sy taverne lisensie, kon hy dit nie wys nie. Die 32-jarige man is gearresteer vir die verkoop van drank sonder ‘n lisensie.
RETREAT: Die polisie het ‘n 37-jarige vrou in hegtenis gearresteer wat na bewering in besit gevind is van 21 pakkies kokaïen by ‘n Wendy-huis in Beethoven-straat.
Zimbabwiese man gearresteer oor dwelms
Klopjag lewer 27 000 Mandrax-pille
MISDAADTONEEL: Parow, Kaapstad: Polisie het ‘n dubbele slag teen dwelm smokkel in Kaapstad se noordelike voorstede geslaan

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het vroeg Woensdagoggend, 9 September 2026, op grond van inligting opgevolg en na ‘n woning in Da Gamastraat, Parow, gegaan.
Volgens die polisie het die lede omstreeks 01:30 ‘n die plek deursoek wat gelei het tot die ontdekking van 27 270 Mandrax-tablette.
“‘n 39-jarige Zimbabwiese man is vir die besit van dwelms gearresteer en word by die Parow polsiestasie aangehou,” het die polisie gesê.
Goodwood: ‘n Dag tevore, omstreeks 23:30 op Dinsdag, 8 September 2026, is ‘n 28-jarige man vir die besit van dwelms gearresteer tydens ‘n stop-en-deursoek-operasie in Cook-straat, Goodwood.
Volgens die polisie het hulle 18 en ‘n half Mandrax-tablette in die verdagte se sakke gevind. Hy word by die Goodwood SAPD aangehou.
Raadslid soek hulp om skieter te identifiseer
Man vuur haelgeweer af in straat
MISDAADTONEEL: Bonteheuwel, Kaapstad: Die plaaslike wyksraadslid het die gemeenskap versoek om te help om ‘n man te identifiseer wat helderoordag ‘n haelgeweer in die straat afvuur.

Raadslid Angus McKenzie het Dinsdag, 8 September 2026 ‘n video van die skietery op sy Facebook-blad geplaas. Die man kan gesien word waar hy die haelgeweer ‘n paar keer afvuur terwyl ‘n vrou agter hom loop terwyl sy ‘n baba dra.
McKenzie sê in sy plasing: “Hierdie dwaas het besluit dit is aanvaarbaar om in ons gemeenskap rond te loop EN ‘N HAELGEWEER TE VUUR. Die geweer is dalk groter as hy, maar die gevaar wat hy inhou, is baie werklik.
“EK HET DIE GEMEENSKAP SE HULP NODIG OM HOM TE IDENTIFISEER. As jy weet wie hy is, rapporteer dit asseblief deur die toepaslike kanale. Kom ons kry hom van ons strate af voordat iemand seerkry. BONTEHEUWEL SAL DIT NIE DULD NIE.”
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is egter nie bewus van die voorval nie.
‘n Skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, konstabel Ndakhe Gwala, sê die Bishop voorval is nog nie rapporteer nie en die Bishop Lavis-polisie het nog geen rekord daarvan nie.
https://www.facebook.com/share/v/19TpPRmk6E
Publiek moet 107 skakel vir noodgevalle
SAPS se 10111 in die nood
JONGSTE! Die telefoonlyne na Maitland 10111-oproepsentrum is herstel en is ten volle operasioneel.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het ‘n beroep op die publiek gedoen om die 107-noodnommer te gebruik, aangesien hulle tegniese probleme met die 10111-nommer ondervind.

Volgens die SAPD ondervind Telkom probleme met sy lyn na sy sy sentrum in Maitland, Kaapstad, en geniet dit tans aandag.
“Op hierdie stadium is die oorsaak nog nie deur die diensverskaffer bepaal nie.
“Intussen word gemeenskappe versoek om die 107-noodnommer te gebruik, wat mense aan die 10111-nommer sal verbind. Alternatiewelik kan lede van die publiek hul naaste polisiestasie kontak vir hulp.”
Die SAPD het gesê hulle sal die publiek op hoogte hou van sake.
Operasie Lockdown betrap ook twee met dwelms,
Vrou vas oor 2 onwettige wapens
MISDAADTONEEL: Bishop Lavis, Kaapstad: ‘n Vrou is gearresteer nadat die polisie twee onwettige vuurwapens en ammunisie in ‘n huis hier gevind het.

Lede van Operasie Lockdown 3 het Sondagaand, 30 Augustus 2026 inligting ontvang oor vuurwapens wat by ‘n perseel in Reenbergstraat, Bishop Lavis aangehou word.
Volgens die polisie het hulle die perseel deursoek en ‘n 9 mm-pistool sonder ‘n reeksnommer, met ammunisie, en ‘n .45-rewolwer in die huis gevind.
‘n 41-jarige vrou is gearresteer vir die besit van ‘n verbode vuurwapen, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.
In Simon’s Berg-straat het die lede ‘n perseel deursoek waar hulle 18 Mandrax-tablette gevind en ‘n 32-jarige man gearresteer het vir die besit van dwelms, het die polisie gesê.
Bonteheuwel: Die lede het ‘n ander perseel in Assegaai-straat, Bonteheuwel, deursoek en 130 Mandrax-tablette, 57 klein pakkies met Tik en 20 heroïenstrooitjies in die huis gevind. Hulle het ‘n 31-jarige man gearresteer vir die besit van dwelms.
Twee mans gearresteer ná skietery in Harare
Nóg ‘n polisie kaptein geskiet
MISDAADTONEEL: Khayelitsha, Kaapstad: Nog ‘n polisie kaptein in die Wes-Kaap is geskiet.

Volgens sersant Wesley Twigg, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, is die kaptein Dinsdagoggend, 1 September omstreeks 06:50 in Ntlazane-straat, Nkanini, Harare, gewond.
“Die Harare-polisie het sake van poging tot moord en kwaadwillige saakbeskadiging geopen ná Dinsdagoggend se skietvoorval.
“Polisievoertuie is ook tydens die skietery beskadig. Die beampte is na ‘n mediese fasiliteit vervoer vir behandeling. Ons kan bevestig dat twee mans gearresteer is,” het Twigg gesê.
Dit is die tweede polisiekaptein in ‘n week wat geskiet is. Verlede Woensdag, 26 Augustus 2026 is kaptein Zamani Mzayiya, in Knysna doodgeskiet.
Mzayiya was deel was van die Wes-Kaapse Taktiese Reaksiespan en is in Knysna ontplooi as deel van die onderskoek span vir die moord op raadslid en voormalige Knysna-burgemeester, Aubrey Tsengwa.
...maar sy vriend sterf in koeëlreën
Baas oorleef aanval by winkel
MISDAADTONEEL: Wittebome, Kaapstad: ‘n Jong winkel-eienaar is Dinsdagmiddag, 25 Augustus 2026 gewond en sy vriend is dood in ‘n skietvoorval voor sy winkel.

Volgens die polisie het die 36-jarige eienaar van ‘n tekkie winkel buite met sy vriend gesit toe ‘n onbekende man hulle nader en op hulle losbrand.
Konstabel Ndakhe Gwala, ‘n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die voorval het omstreeks 12:00 in Exeter-weg, Wittebome, plaasgevind.
“Ons kan bevestig Wynberg-speurders ondersoek sake van moord en poging tot moord on ná die skietery in Exeter-weg.
“Die 36-jarige eienaar het in die winkel gehardloop terwyl sy 31-jarige vriend na die straat gehardloop het. Die vriend het verskeie skietwonde in sy maag opgedoen en op die toneel aan die beserings beswyk.
“Die motief vir die aanval word ondersoek en geen arrestasie is in hierdie stadium gemaak nie,” het Gwala gesê.
Derde gewond, aanvallers vlug van toneel
Twee sterf in Portland-skietery
MISDAADTONEEL: Mitchells Plain, Kaapstad: Twee mans is doodgeskiet en ‘n derde gewond in ‘n vermoedelike bende-verwante voorval.

Sersant Wesley Twigg, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het gesê
Die Mitchell’s Plain-polisie het twee aanklagte van moord en een van poging tot moord geopen ná die aanval Vrydagaand, 21 Augustus 2026, omstreeks 20:28.
“Polisielede het reageer op ‘n klag van ‘n skietery en met hul aankoms op die toneel in Venice Close, Portlands, het hulle die slagoffers met skietwonde aan hul liggame gevind. Twee mans van 27 en 35-jaar-oud is op die toneel dood verklaar en ‘n 24-jarige man is gewond. Hy is na ‘n mediese fasiliteit vervoer vir behandeling.
“Die motief vir die aanval is vermoedelik bende-verwant. Die verdagte(s) het van die toneel gevlug en is nog nie igearresteer nie,” het Twigg gesê.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan Stop Misdaad kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem gebruik.
Polisie kry dwelms, selfone en kondome in kar
Bewaarder by tronk gearresteer
MISDAADTONEEL: Goodwood, Kaapstad: ‘n 47-jarige bewaarder is gearresteer nadat hy na bewering in besit van dwelms en ander goedere gevind is.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die Anti-Bende-Eenheid en Korrektiewe Dienste se noodondersteuning-span Woensdag 12 Augustus 2026 omstreeks 6:40 ‘n padblokkade by die Goodwood-gevangenis gehou.
“’n Voertuig wat deur ‘n bewaarder bestuur is, is voorgekeer en deursoek. Die lede het 600 Mandrax-tablette, 100 gram Tik, 300 gram dagga, 23 selfone, drie pare oorfone, vyf USB-sticks, 10 kondome en 60 libido-tablette in die bewaarder se voertuig gevind.
“Die geraamde waarde van die dwelms is ongeveer R65 000. Die bewaarder is gearresteer en sal in die Goodwood-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is,” het die SAPD gesê.
Polisie vang ook man met dwelms in Observatory
Tiener vas vir vuurwapen
MISDAADTONEEL: Atlantis, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Anti-Bende-Eenheid het ‘n tienerseun gearresteer vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen.

Die polisie het die 19-jarige saam met ‘n 36-jarige man omstreeks 22:50 op Sondag, 9 Augustus 2026 in Zeelandstraat, Atlantis, gearresteer..
Die tienerverdagte is gevang vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen nadat die lede sy woning deursoek het, en die ouer man vir die besit van ammunisie na die ontdekking van 15 rondtes ammunisie in sy huis.
Observatory: Operasie Shanela-lede het inligting opgevolg wat hulle Maandag 10 Augustus 2026 ontvang het oor ‘n man wat in Wrensch-straat, bly en vermoedelik by bende-verwante aktiwiteite betrokke is.
Volgens die SAPD het Shanela-lede omstreeks 13:30 op die woning toegeslaan. Hulle het die perseel deursoek en een sakkie Tik wat 830,41 gram geweeg het, gevind.
‘n 54-jarige man is gearresteer vir die besit van dwelms.
