Bonteheuwel dwelms
Man in arres oor poging tot moord in Elsiesrivier
Polisie vang ou gou ná skietery
MISDAADTONEEL: Elsiesrivier, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Vrydagoggend 29 Mei 2026 blitsvinnig reageer om ‘n verdagte in ‘n poging tot moord saak agter tralies te sit.

‘n Media skakelbeampte van die Wes-Kaapse polisie, Kaptein Frederick C. Van Wyk, het gesê ‘n skietvoorval het in 12de-Laan, Leonsdale, plaasgevind.
“Die slagoffer is na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas vir behandeling. Terwyl speurders op die toneel was, is inligting ingesamel en die 37-jarige verdagte is geïdentifiseer.
“Lede van Operasie Lockdown 3 is versoek om te help die verdagte opspoor. Die inligting is opgevolg en lede het na ‘n adres in Nassau Court, 14de Laan, Leonsdale, gegaan waar die verdagte gearresteer is.
“Die vuurwapen wat vir die misdaad gebruik is, is nog nie teruggevind nie,” het Van Wyk gesê.
Bonteheuwel: Op Saterdag 30 Mei 2026 om 01:30 het Operasie Lockdown 3 lede ‘n 41-jarige man by ‘n huis in Pendoringstraat gearresteer vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen, ammunisie en dwelms.
Volgens Van Wyk was hulle besig met ‘n stop-en-deursoek-operasie toe hulle die verdagte man oplet. Hulle het hom voorgekeer en deursoek en in besit van ‘n 9 mm-pistool met nege rondtes ammunisie, drie Mandrax-tablette, drie halwe Mandrax-tablette, fyngemaakte Mandrax, sewe sakkies Tik kontant betrap.
Hy het hom teen die arrestasie verset, wat gelei het tot ‘n besering aan sy arm. Hy is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling en later by die Bishop Lavis polisiestasie ingeboek.
Smokkelhuise loop ook deur polisie klopjagte
Vrou vas oor vals siek sertifikate
MISDAADTONEEL: Gugulethu, Kaapstad: Die polisie het ‘n 40-jarige vrou gearresteer nadat sy na bewering mediese siek sertifikate aan die publiek verkoop het.

Kaptein FC van Wyk, ‘n mediaskakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, sê lede verbonde aan die Gugulethu-misdaadvoorkomingseenheid het die vrou, wat in NY77 woon, Dinsdag 26 Mei 2026 gearresteer op aanklagte van vervalsing van sertifikate en die verspreiding daarvan.
“Die voorlopige ondersoek sal die omvang van die aktiwiteite bepaal en of die verdagte in diens van of verbonde was aan ‘n mediese praktisyn of gesondheidsorg-instelling,” het Van Wyk gesê.
In ‘n ander voorval in Gugulethu, op Woensdag 27 Mei 2026, het die Gugulethu-polisie, in ‘n gesamentlike operasie met ander wetstoepassers en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, as deel van Operasie Prosper, ‘n misdaadvoorkomingsoperasie uitgevoer. Die doel van die operasie was om onwettige handel in drank en verwante kriminele aktiwiteite in die gebied aan te spreek.
“Twee onwettige sjebiens is deursoek, wat gelei het tot die beslaglegging van ongeveer 426 liter drank met ‘n geraamde straatwaarde van R80 000,” het Van Wyk gesê.
Die Wes-Kaapse Provinsiale polisiebestuur het al die betrokkenes geprys vir hul samewerking en toewyding tot die vermindering van misdaad in Gugulethu, het hy gesê.
Bonteheuwel: Dieselfde dag, sowat 13:45 het lede van Operasie Prosper ‘n 41-jarige man gearresteer vir beweerde dwelmhandel by ‘n perseel in Bramble Way.
Die arrestasie is gemaak tydens stop-en-deursoek-operasies in die gebied. Die lede het 45 klein Tik-sakkies, 24 groot sakke Tik, 25 Mandrax-tablette en 22 halwe Mandrax-tablette, sowel as kontant, gevind en gekonfiskeer.
