Polisie maak verskeie arrestasies in Namakwa-distrik

Dagga ‘kriminele’ draai in die rook

MISDAADTONEEL: Namakwa-distrik, Noord-Kaap: Vermeende dwelmhandelaars draai in die rook nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) Woensdag, 16 September 2026, dagga gekonfiskeer en drie mans gearresteer het.

Die SAPD in die Namakwa-distrik het die drie mans tydens aparte operasies in Kleinsee en Springbok gearresteer.

Omstreeks 08:15 Woensdag het die polisie van Kleinsee ‘n deursoek en beslaglegging-lasbrief by ‘n woning in Eerste-laan uitgevoer.

Volgens die SAPD is vyf mans op die perseel aangetref. Die plek is met die eienaar se toestemming deursoek en dagga met ‘n geskatte straatwaarde van R8 870 is in ‘n kas in die slaapkamer gevind.

‘n 42 jarige man is vir die besit van dagga gearresteer.

Omstreeks 09:30 het die Namakwa-distrik-taakspan ‘n 47-jarige man in Bergsig, Springbok, gearresteer nadat hy na bewering met dwelms in sy besit betrap is.

Later dieselfde dag het die taakspan inligting ontvang oor vermeende dwelm aktiwiteite, ook in Bergsig.

Volgens die SAPD het die lede vinnig opgetree en ‘n verdagte voertuig voorgekeer.

“Die voertuig is deursoek en agt sakke dagga, met ‘n geskatte straatwaarde van R29 600, is binne gevind. ‘n Man (53) is gearresteer vir handel in dagga,” het die SAPD gesê.

Die bestuur van die Namakwa-distrik het die suksesse verwelkom en mense wat by die onwettige dwelmhandel betrokke is, gewaarsku dat die polisie voort sal gaan om kriminele aktiwiteite te ontwrig en af te breek.

Die SAPD in Namakwa het ook gemeenskapslede vir hul samewerking bedank en inwoners aangemoedig om kriminele aktiwiteite by die polisie aan te meld.






Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*