Noord-Kaap misdaad

 
 

Eks-werker begrawe boer se lyk in vlak graf

Plaas moordenaars gebêre

UIT DIE HOF: ‘n Voormalige plaaswerker en ‘n medepligtige is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die moord en roof van ‘n boer in Keimoes in die Noord-Kaap provinsie. 

Adjudant-offisier William Mouers

Die 71-jarige Hugo van Sittert is in Februarie 2024 op sy plaas vermoor. 

Getuienis voor die hof het aan die lig gebring dat Van Sittert se voormalige werknemer, die 25-jarige Laurenzo Matthys, en sy 58-jarige medepligtige, Henry Beukes, die oorledene van sy voertuig, kontant, kruideniersware en ‘n .22-jaggeweer beroof het voordat hulle hom vermoor het. 

Op 4 Februarie 2024 het twee wakker polisiebeamptes, adjudant-offisiere William Mouers en Heinrich Titus, die twee verdagtes teëgekom terwyl hulle in Van Sittert se voertuig gery het.

Die beamptes het ‘n rot geruik toe hulle opmerk dat Van Sittert nie in die voertuig is nie. Hulle het die verdagtes ondervra en is daarna na die plaas toe. Toe hulle daar kom, was niemand tuis nie en die beamptes het vasgestel dat Beukes vroeër op die plaas ‘n skietwond aan sy hand opgedoen het. 

Met verdere ondersoek is Van Sittert se vuurwapen in die besit van die verdagtes gevind en en daarna is die gru-ontdekking gemaak toe sy liggaam in ‘n vlak graf naby die plaas gevind word. 

Mouers het die ondersoek gelei en ‘n suksesvolle vervolging van albei beskuldigdes verseker. Op Woensdag, 28 Oktober 2026 is die twee tot lewenslange gevangenisstraf vir moord gevonnis en 15 jaar elk vir die besit van ‘n onwettige vuurwapen en roof met verswarende omstandighede. 

Die hof het beslis dat albei beskuldigdes nooit vir parool oorweeg moet word nie, weens die gevaar wat hulle vir die samelewing en hulself inhou.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se bestuur in die Noord-Kaap het die vonnisse verwelkom. 

Die ZF Mgcawu-distrikskommissaris, generaal-majoor Monica Sebili, het Mouers geloof vir sy goeie ondersoekwerk. Sebili het sowel Mouers as Titus geprys vir hul waaksaamheid, toewyding en pligsgetrouheid, wat gelei het tot die vinnige arestasie van die misdadigers. 


Speurder ry polisiestasie toe terwyl dwelm verdagte slaap

AO te wakker vir vaak ryloper

MISDAADTONEEL: Upington, Noord-Kaap: ‘n Op en wakker polisiebeambte en ‘n vaak ryloper het direk tot laasgenoemde se arrestasie gelei vir die besit van dwelms.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was ’n adjudant-offisier (AO), verbonde aan die Upington-eenheid vir Ernstige Georganiseerde Misdaad, per motor op pad van Kimberley na Upington.

Volgens die SAPD het hy langs die pad gestop om ’n oproep te maak, toe ’n onbekende man wat verdag gelyk het, hom nader en vra vir ’n saamry geleentheid.

“Die beampte het ’n sterk reuk van dagga opgemerk wat uit die individu se sakke gekom het. Om nie agterdog te wek nie, het die beampte aangebied om hom ‘n lift te gee en ’n betaling van R200 vir die rit aanvaar.

“Tydens die rit het die 29-jarige verdagte aan die slaap geraak, en die beampte het reguit na die Upington-polisiestasie gery om hulp te kry om die man te deursoek. Tydens die deursoeking is 60 Mandrax-tablette ter waarde van R6 000, ’n sak hoë-gehalte-dagga ter waarde van R5 000 en los dagga ter waarde van R500 in sy besit gevind. Die verdagte is onmiddellik gearresteer vir die besit van dwelms,” het die SAPD gesê.


Polisie maak verskeie arrestasies in Namakwa-distrik

Dagga ‘kriminele’ draai in die rook

MISDAADTONEEL: Namakwa-distrik, Noord-Kaap: Vermeende dwelmhandelaars draai in die rook nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) Woensdag, 16 September 2026, dagga gekonfiskeer en drie mans gearresteer het.

Die SAPD in die Namakwa-distrik het die drie mans tydens aparte operasies in Kleinsee en Springbok gearresteer.

Omstreeks 08:15 Woensdag het die polisie van Kleinsee ‘n deursoek en beslaglegging-lasbrief by ‘n woning in Eerste-laan uitgevoer.

Volgens die SAPD is vyf mans op die perseel aangetref. Die plek is met die eienaar se toestemming deursoek en dagga met ‘n geskatte straatwaarde van R8 870 is in ‘n kas in die slaapkamer gevind.

‘n 42 jarige man is vir die besit van dagga gearresteer.

Omstreeks 09:30 het die Namakwa-distrik-taakspan ‘n 47-jarige man in Bergsig, Springbok, gearresteer nadat hy na bewering met dwelms in sy besit betrap is.

Later dieselfde dag het die taakspan inligting ontvang oor vermeende dwelm aktiwiteite, ook in Bergsig.

Volgens die SAPD het die lede vinnig opgetree en ‘n verdagte voertuig voorgekeer.

“Die voertuig is deursoek en agt sakke dagga, met ‘n geskatte straatwaarde van R29 600, is binne gevind. ‘n Man (53) is gearresteer vir handel in dagga,” het die SAPD gesê.

Die bestuur van die Namakwa-distrik het die suksesse verwelkom en mense wat by die onwettige dwelmhandel betrokke is, gewaarsku dat die polisie voort sal gaan om kriminele aktiwiteite te ontwrig en af te breek.

Die SAPD in Namakwa het ook gemeenskapslede vir hul samewerking bedank en inwoners aangemoedig om kriminele aktiwiteite by die polisie aan te meld.