Skoonmaker smokkel na bewering met dwelms

Polisie vee Wynberg-hof skoon

MISDAADTONEEL: Wynberg, Kaapstad: ’n Skoonmaker wat in die Wynberg-landdroshof werk is op heter daad betrap terwyl hy na bewering dwelms aan ’n gevangene oorhandig het.

Die Wynberg-polisie het inligting ontvang oor die skoonmaker, wat van plan was om die smokkelware op Maandag, 28 September 2026, te oorhandig.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het lede omstreeks 07:30 na die hof gegaan en die verdagte op heter daad betrap.

“Die polisie het beslag gelê op ’n sak wat 88 Mandrax-tablette, 10 pakkies tabak, sewe pakkies Tik, vyf pakkies dagga, ’n selfoon met twee SIM-kaarte en ’n charging kabel bevat het. Die 42-jarige man is gearresteer.

“Die lede het Dinsdag, 29 September 2026, die verdagte se kantoor in die hofgebou deursoek en ’n sak gevind wat na bewering aan die verdagte behoort. Daarin was 402 Mandrax-tablette, 41 sakkies Tik, een pakkie kokaïen, vyf pakkies dagga, 14 selfone met 16 SIM-kaarte en twee selfoonlaaiers. Daar is op die sak en die inhoud daarvan beslag gelê,” het die SAPD gesê.

Die verdagte het op Woensdag, 30 September 2026, in dieselfde hof waar hy gewerk het, verskyn.



« (Previous News)



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*