Sewe sterf, 5 beseer in skietery

Slagting op Kaapse Vlakte

MISDAADTONEEL: Kaapse Vlakte: Sewe mense is dood en ten minste vyf beseer in twee massaskietvoorvalle Woensdagaand, 8 Julie 2026.

Drie mense is in Tafelsig doodgeskiet en twee gewond.

In die eerste voorval, wat omstreeks 20:10 op die hoek van Laurastraat en 8ste-laan in Lost City, Tafelsig, Mitchells Plain plaasgevind het, het vyf mans buite ‘n plaaslike spaza winkel gestaan.

Gewapende verdagtes het hulle genader en op hulle losgebrand.

Volgens ‘n skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, kolonel Andrè Traut, het drie slagoffers  van 18, 19 en 51-jaar-oud, noodlottige skietwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Twee ander slagoffers van 17 en 22-jaar-oud, is na ‘n mediese fasiliteit vervoer vir behandeling.

“’n Kort rukkie later, omstreeks 20:30, het die polisie gereageer op ’n skietvoorval by ’n woning in Marcus Garvey, Philippi-Oos, waar sewe mense geskiet is. Vier slagoffers, tussen 17 en 20-jaar-oud, is op die toneel dood, terwyl drie ander in die hospitaal opgeneem is.

“Die omstandighede en motief rondom beide voorvalle word ondersoek,” het Traut gesê.

“Om verdere geweld te voorkom en openbare veiligheid te verbeter, is polisie-ontplooiings in die betrokke gebiede verskerp. Lede sal ’n sigbare teenwoordigheid handhaaf en voortgaan om operasies uit te voer wat daarop gemik is om die gemeenskappe te stabiliseer en die veiligheid van inwoners te verseker.

“Die Wes-Kaapse polisie veroordeel hierdie gewelddadige dade ten sterkste en gaan alles doen omdie verantwoordelikes te vang,” het Traut gesê.

Vroeër is een persoon ook glo dood tydens ’n skietvoorval in Komatiweg, Mfuleni.

Enigiemand met inligting wat ondersoekbeamptes kan help, word versoek om Stop Misdaad te kontak by 08600 10111 of inligting anoniem via die MySAPS-App in te dien. Alle inligting sal met die strengste vertroulikheid behandel word.






Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*