Moeder gaan soek haar seun, beide kom nie terug

Ma, seun saam doodgeskiet

MISDAADTONEEL: Kraaifontein, Kaapstad: ‘n Ma en haar seun se lewens is saam beëindig, vermoedlik deur dieselfde moordenaar.

Die 43-jarige vrou en haar 20-jarige seun is vroeg Donderdag-oggend, 27 Augustus 2026, in Madison-hof, Scottsdene in Kraaifontein geskiet. Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die voorval omstreeks 5:30 plaasgevind.

‘n Woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, konstabel Ndakhe Gwala, sê  Kraaifontein-polisie het twee aanklagte van moord ná die voorval geregistreer.

“Die ma het wakker geword en opgemerk haar seun is nie by die huis nie. Sy het aan haar dogter gesê sy gaan uit om hom te soek. Kort daarna het haar dogter skote gehoor,” het Gwala gesê.

Die vrou en haar seun is buite langs mekaar met skietwonde aan hul bolyf gevind.

Mediese personeel het albei slagoffers op die toneel dood verklaar. Die motief vir die skietery is nog nie vasgestel nie, en geen arrestasies is nog gemaak nie.






Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*