Misdaad Kaapstad
Metro polisie kry twee pistole in gekaapte kar
Twee vas ná dubbele moord
MISDAADTONEEL: Seawinds, Kaapstad: Twee mans is gearresteer ná ‘n dubbele moord verlede week in Cafda Village.

Die Stad Kaapstad se Metro polisie is om 09:25 Vrydag, 9 Oktober 2026, in kennis gestel van die skietery in Ensor-straat, Cafda.
Die polisiebeamptes is ‘n beskrywing van die skieters se motor, ‘n wit Chevrolet, gegee en die kar is in Military-weg, naby Seawinds in Lavender Hill, opgespoor.
Ná ‘n hoëspoedjaagtog deur die strate van Capricorn het die polisie daarin geslaag om die voertuig in Seawinds tot stilstand te dwing. Die drie insittendes het probeer vlug, maar die Metro polisiebeamptes het twee van die verdagtes gevang en gearresteer.
Die kar is deursoek en daar is op twee vuurwapens en 11 lewendige patrone in ‘n magasyn beslag gelê.
Die voertuig is na bewering ná die skietery in Ensor-straat in Cafda gekaap.

Die verdagtes is gearresteer op aanklagte van onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook roekelose en nalatige bestuur.
“Die beamptes se vinnige optrede het gelei tot die arrestasie van twee moord verdagtes wat op daardie stadium ook die lewens van ander padverbruikers in gevaar gestel het. Of dit nou gaan oor die verwydering van misdadigers of onwettige wapens, ons beamptes sal voortgaan om ons strate veiliger te maak,” het JP Smith, lid van die burgemeesterskomitee vir veiligheid en sekuriteit, gesê.
Die twee was deel van die 474 verdagtes wat die afgelope week deur die Stad se wetstoepassing-departemente gearresteer is.
Die Metro polisie het 120 verdagtes gearresteer en beslag gelê op nege gekaapte en/of gesteelde voertuie en ses verbode vuurwapens.
Wetstoepassingsbeamptes het 297 arrestasies uitgevoer, terwyl verkeersbeamptes 57 verdagtes gearresteer het: 48 vir dronkbestuur, agt vir roekelose en nalatige bestuur, en een op ander aanklagte.
Die publiek kan voorvalle en noodgevalle, of enige verdagte en/of kriminele aktiwiteite, by die openbare nood-kommunikasiesentrum (PECC) by 021 480 7700 aanmeld, of deur die Veiligheid-en-Sekuriteit-funksie op die City-App te gebruik.
Lees ook: Man en vrou sterf in skietery – Crime Scene Report
Polisie fokus ook op afpersers, arresteer vier in kar
Verdagtes vas oor vuurwapens
WES-KAAP: Die polisie het hul stryd teen onwettige vuurwapens verskerp, met verskeie suksesvolle operasies die afgelope week wat tot arrestasies en beslaglegging op wapens en ammunisie gelei het.

In Mitchells Plain het die Misdaad-voorkomingseenheid op Woensdag, 7 Oktober 2026 in Polo-straat, Beacon Valley, patrollies gedoen toe hulle skote hoor. Beamptes het ‘n Toyota Yaris wat gejaag het, agternagesit en tot stilstand gedwing. Twee verdagtes het toe te voet gevlug, maar is gou gevang. Daar is beslag gelê op drie 9mm-pistole en ammunisie. Die twee mans staan tereg op aanklagte van besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

In Villiersdorp, ook Woensdag, 7 Oktober, het polisie optrede gefokus op verdagtes wat na bewering spaza-winkeleienaars afpers. Beamptes het ‘n Suzuki Swift, wat met die groep verbind word, voorgekeer en ‘n 9mm-pistool met 15 patrone, asook ‘n Star .45-kaliber vuurwapen met 14 patrone, in die voertuig gevind. Vier verdagtes, tussen die ouderdomme van 21 en 39, is gearresteer en sal na verwagting Vrydag, 9 Oktober 2026, in die Caledon-landdroshof verskyn.
Intussen, in Military Heights, Seawind, het lede van die anti-bende-eenheid tydens ‘n voetpatrollie Disndag, 6 Oktober 2026 inligting ontvang oor ‘n verdagte wat ‘n sak met ‘n vuurwapen daarin rond dra. Die verdagte het gevlug toe hy die polisie opmerk en die sak neer gegooi. Die polisie het die sak teruggevind en ‘n vuurwapen en 30 patrone gekry. ‘n Ondersoek na die oorsprong van die wapen is aan die gang.

In Charlesville het ‘n intelligensie-gedrewe operasie deur die anti-bende-eenheid gelei tot die vonds van ‘n 9mm-pistool met 26 patrone wat onder ‘n Toyota Hilux in ‘n erf versteek was. ‘n 30-jarige man is gearresteer.
Tweede noodlottige skietery in Cafda Village in 24 uur
Man en vrou sterf in skietery
MISDAADTONEEL: Cafda Village, Kaapstad: ’n Man en ’n vrou is koelbloedig doodgeskiet in die jongste sinnelose voorval van geweld in Kaapstad.

Die jongste voorval het Vrydagoggend, 9 Oktober 2026, omstreeks 09:30 in Ensor-straat, Cafda Village, plaasgevind, volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Wesley Twigg, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, sê Steenberg-polisie het op die skietery gereageer nadat hulle ’n klagte oor vuurwapen skote ontvang het.
“Toe hulle by die toneel aankom, het hulle ’n 30-jarige man en 46-jarige vrou met skietwonde aangetref. Albei slagoffers is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar.
“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en geen arrestasies is nog gemaak nie. Steenberg-speurders ondersoek twee aanklagte van moord,” het Twigg gesê.
Die voorval volg kort op die hakke van nog ’n skietery nie ver van Ensor-straat af nie, waartydens ’n jong man Donderdag, 8 Oktober 2026, in Blagden-straat doodgeskiet is. (Lees ook:Man helderoordag vermoor – Crime Scene Report )
Gewapende rowers val huis aan, twee geskiet
Huisrower in Crawford doodgeskiet
MISDAADTONEEL: Crawford, Kaapstad: ‘n Verdagte is Woensdagaand, 7 Oktober 2026, tydens ‘n huisroof-voorval doodgeskiet en nog een gewond.

Sersant Wesley Twigg, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het gesê die voorval het omstreeks 21:15 in Rokeby-weg, Crawford plaasgevind.
“Volgens berigte was die huismense tuis toe onbekende verdagtes, gewapen met vuurwapens, die huis binnenkom en kontant eis. Die slagoffers is vasgebind.
“Skote is afgevuur en een verdagte het gesterf. ‘n Verdagte wat ook gewond is, is later gearresteer en is onder polisiebewaking in die hospitaal. Die omstandighede rondom die voorval word deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondersoek,” het Twigg gesê.
Onbevestigde berigte dui daarop dat die verdagtes maskers gedra en dat die gewonde man by die Astron-vulstasie in Belgravia-straat gearresteer is.
Die Lansdowne-polisie het ‘n saak van huisroof vir ondersoek geregistreer
Drie vas na daar by motors ingebreek word
Skelms teiken Tafelberg-besoekers
MISDAADTONEEL: Tafelberg: Kaapstad se toerisme-seisoen kry momentum — maar misdaad by gewilde toeriste bestemmings, neem ook toe.

Sondagmiddag het beamptes van die Stad se Wetstoepassing Toerisme‑eenheid verdagtes onderskep nadat ’n voertuig se alarm naby Tafelberg afgegaan het.
Twee vroue is gesien terwyl hulle weg van die voertuig beweeg en in ’n Uber-kar geklim het. Die Uber is deur beamptes gestop en binne is ’n manlike passasier met vermoedelik gesteelde goedere aangetref.
Verdere ondersoeke het getoon dat daar met verskeie voertuie in die omgewing gepeuter is. Toe besoekers vanaf hulle staproetes terugkeer, het van hulle bevestig dat items wat in hul motors versteek was, weg is. Die gesteelde goedere is teruggevind en die verdagtes is gearresteer.
JP Smith, die Stad se Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, het beklemtoon dat die beskerming van toeriste noodsaaklik is vir Kaapstad se ekonomie.
“Toerisme is veel meer as besoekers wat foto’s neem en geld spandeer in ons stad. Dit ondersteun duisende mense in die akkommodasie, restaurant, vervoer, kleinhandel en toeroperateur-sektore sowel as baie ander besighede wat deel vorm van die toerisme‑ekonomie,” het hy gesê.
Smith het bygevoeg dat sigbare polisiëring by sleutel‑toerismeplekke opgeskerp word.
“Ons boodskap is duidelik: ons wil hê besoekers moet die beste van Kaapstad ervaar, en ons sal aanhou werk om te verseker dat kriminele aktiwiteite nie die reputasie van ons stad as toerisme bestemming ondermyn nie.”
Owerhede het besoekers aangeraai om waaksaam te bly, hul voertuie te beveilig en nie waardevolle items in hulle voertuie te los nie — selfs wanneer dit buite sig versteek word.
Moeder gaan soek haar seun, beide kom nie terug
Ma, seun saam doodgeskiet
MISDAADTONEEL: Kraaifontein, Kaapstad: ‘n Ma en haar seun se lewens is saam beëindig, vermoedlik deur dieselfde moordenaar.

Die 43-jarige vrou en haar 20-jarige seun is vroeg Donderdag-oggend, 27 Augustus 2026, in Madison-hof, Scottsdene in Kraaifontein geskiet. Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die voorval omstreeks 5:30 plaasgevind.
‘n Woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, konstabel Ndakhe Gwala, sê Kraaifontein-polisie het twee aanklagte van moord ná die voorval geregistreer.
“Die ma het wakker geword en opgemerk haar seun is nie by die huis nie. Sy het aan haar dogter gesê sy gaan uit om hom te soek. Kort daarna het haar dogter skote gehoor,” het Gwala gesê.
Die vrou en haar seun is buite langs mekaar met skietwonde aan hul bolyf gevind.
Mediese personeel het albei slagoffers op die toneel dood verklaar. Die motief vir die skietery is nog nie vasgestel nie, en geen arrestasies is nog gemaak nie.
