Skiet 3 mense dood en wond 2 op een aand

Bendelid sit lewenslank

UIT DIE HOF: Die Gqeberha-hooggeregshof het ‘n bendeliid tot drie keer lewenslank in die tronk gevonnis vir moord. 

Anthony Ruiters (41), ook bekend as Nabbas, is op 7 Julie 2026 in die Gqeberha-hooggeregshof op verskeie aanklagte skuldig bevind. Hy is op Dinsdag, 29 September 2026, tot lewenslange tronkstraf vir elk van drie aanklagte van moord gevonnis, asook 10 jaar tronkstraf vir twee aanklagte van poging tot moord.

Daarbenewens het hy 15 jaar gekry vir gewapende besigheidsroof, vyf jaar vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen, twee jaar vir die onwettige besit van ammunisie en een jaar vir die rig van ‘n vuurwapen.

Die hof het beveel dat al die vonnisse samelopend uitgedien moet word.

Die ondersoek is gelei deur speur-adjudantoffisier Dudley Ferreira van die anti-bende-eenheid.

Die hof het gehoor dat Jaydin Stalmeester, Nicolyn Ferreira en Dillon Booysen die aand van 29 Oktober 2021 in Kariega doodgeskiet is. Fernando van Rooyen en Rodwin Human is gewond.

Stalmeester is na ‘n hospitaal in Kariega geneem, waar hy oorlede is. Human is in die been geskiet toe hy die Oasis-kroeg in Seagull-straat binnegegaan het. Ferreira is geskiet nadat sy die kroeg verlaat het. Die beskuldigde het later teruggekeer en Ferreira weer geskiet. Booysen is agternagesit en geskiet terwyl hy probeer vlug het. Ferreira is met aankoms by die hospitaal dood verklaar, en Booysen is op die toneel oorlede.

Tydens die ondersoek het DNS-bewyse Ruiters ook verbind aan ‘n voorval in Jeffreysbaai op die aand van 13 September 2014. Daardie aand het gewapende aanvallers die O Chorros-onthaalplek binnegegaan, die mense daar aangerand en kontant en selfone geëis.

Hulle het eiendom uit die perseel verwyder, insluitend ‘n Chevrolet Spark wat aan Nico van Onselen behoort het. Die voertuig is later daardie aand in Terblanche-straat, Gelvandale, Gqeberha, teruggevind.

Die waarnemende distrikskommissaris van Nelson Mandelabaai, brigadier Loyiso Ngalo, het speurder Ferreira en die aanklaer, advokaat Liezel Landman van die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging (DPV), geprys vir hul toegewyde werk en die suksesvolle vervolging wat tot die skuldigbevinding gelei het. 

Hy het gesê bendes bly ‘n groot bron van kommer in die gemeenskap en dat die skuldigbevinding ‘n duidelike boodskap uitstuur dat diegene wat by kriminele aktiwiteite betrokke is, gevind en gearresteer sal word.



« (Previous News)



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*