Polisie soek inligting oor voorval in Lavender Hill

Meisie (9) stabiel ná skietery

MISDAADTONEEL: Lavender Hill, Kaapstad: ‘n Nege-jarige meisie ontvang behandeling in die hospitaal nadat sy Maandagaand, 16 November 2026, in bendes se kruisvuur getref is.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n beroep op die publiek gedoen om na vore te kom met enige inligting wat kan help met die ondersoek.

Sersant Wesley Twigg, ‘n skakelbeampte van die Wes-Kaapse polisie, sê die skietery het omstreeks 20:30 in Militar-weg, Lavender Hill, plaasgevind.

Kort na die voorval het gerugte dat die meisie oorlede is, soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei, maar dit is vinnig deur familielede ontken.

Volgens Twigg was die meisie reeds in ‘n private voertuig na ‘n hospitaal geneem teen die tyd dat die Steenberg-polisie op die toneel opdaag.

“Die slagoffer het ‘n skietwond aan haar liggaam opgedoen en is in ‘n stabiele toestand in die hospitaal. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en niemand is nog gearresteer nie. Speurders van Steenberg SAPD ondersoek ‘n saak van poging tot moord,” het Twigg gesê.

Enigeen met inligting kan Stop Misdaad by 08600 10111 kontak, of die MySAPS-App gebruik om inligting anoniem deur te gee.






Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*