Polisiebeamptes ook onder gewondes

Massa-skietery ruk Stellenbosch

MISDAADTONEEL: Kayamandi, Stellenbosch: Vier mense is doodgeskiet en vier beseer in ‘n massa-skietvoorval.

Die foto is geskep met die hulp van AI en word slegs vir illustrasie doeleindes gebruik.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het gesê twee van die gewondes is polisiebeamptes.

Speurders verbonde aan die Wes-Kaapse Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdaad ondersoek die skietery wat Sondagaand 26 Julie 2026 in Kayamandi, Stellenbosch, plaasgevind het.

Die SAPD het gesê die Stellenbosch-polisie het reageer op berigte van ‘n skietery omstreeks 17:35 in 7de Laan waar hulle ‘n onbekende man gevind het met noodlottige skietwonde.

“Terwyl hulle op die misdaadtoneel was, het hulle nog skote in die omgewing gehoor en onmiddellik gereageer. Toe hulle die gebied nader, het gewapende verdagtes op hulle begin skiet. Die lede het teruggeskiet en die verdagtes gedwing om te vlug.

“Tydens die voorval het twee SAPD-lede en twee lede van die publiek, ‘n man en ‘n vrou, skietwonde opgedoen en is na ‘n nabygeleë mediese fasiliteit vervoer vir behandeling.

“Vier ongeïdentifiseerde mans is met noodlottige skietwonde gevind. ’n 9 mm-vuurwapen is by een van die misdaadtonele teruggevind. Misdaadtoneel-kundiges het deur die nag gewerk om bewyse in te samel om die ondersoek te help,” het die SAPD gesê.

Die waarnemende Wes-Kaapse Provinsiale Kommissaris, Generaal-Majoor Luyanda Damoyi, het die aanval sterk veroordeel en die geweld as onaanvaarbaar beskryf.

“Diegene wat polisiebeamptes aanval en ons gemeenskappe terroriseer, sal die volle mag van die gereg in die gesig staar,” het Damoyi gesê.

Geen arrestasies is nog gemaak nie.

Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om Stop Misdaad te kontak by 08600 10111 of inligting anoniem te verskaf via die MySAPS-App. Alle inligting sal met die strengste vertroulikheid behandel word.



(Next News) »



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked as *

*