30 Junie betogings
Betogings meestal vreedsaam
Polisie arresteer 10 vir plunder
MISDAADTONEEL: Delft, Kaapstad: Die Delft-polisie het 10 mense gearresteer vir openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging nadat plundering by ‘n winkel in Hoof-weg, Voorbrug, Dinsdag 30 Junie 2026 plaasgevind het.

‘n Skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, sersant Wesley Twigg, het gesê toegang tot die winkel is deur die dak verkry. Twigg het bevestig dat een vrou en nege mans tussen die ouderdomme van 18 en 45-jaar gearresteer is.
Die Stad Kaapstad het gister gesê protesoptogte op 30 Junie het meestal vreedsaam verloop het, maar daar was geïsoleerde berigte van plundering en geweld.
Hou dié nommers gereed vir noodgevalle
Stad, polisie ‘gereed’ vir 30 Junie
Die Stad Kaapstad vra sy inwoners om enige voorvalle, noodgevalle of verdagte en/of kriminele aktiwiteite aan die Openbare Noodkommunikasiesentrum (PECC) by 021 480 7700 aan te meld.

Dit kom op die vooraand van die betogings wat vir Dinsdag, 30 Junie 2026 beplan word.
Die Stad sê in ‘n verklaring inwoners kan ook die anonieme wenk-lyn, 0800 11 0077, gebruik om die enige gevalle van geweld of onluste aan te meld.
Die Stad se Veiligheids- en Sekuriteitsdirektoraat sê hy werk nou saam en ondersteun die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Departement van Binnelandse Sake om moontlike ontwrigtings en onluste wat verband hou met die betogings te beheer.
Die Stad sê hy het reeds gebiedsgebaseerde operasiesentrums geaktiveer.
“Operasies op 30 Junie sal gekoördineer word deur die Ramp-koördineringspan (RSP) in Goodwood. Spanne monitor planne wat more, 30 Junie tot ontwrigtings en bedreigings kan lei.
“Die Stad neem deel aan gekoördineerde beplanning met die SAPD, wat verantwoordelik is misdaadvoorkomings- en openbare orde-polisiëring, en ander relevante vennote.
“Die Stad se Ramprisiko-bestuursentrum help met die koördinering van humanitêre hulp by die Epping-sentrum vir vlugtelinge,” het die Stad in ‘n verklaring gesê.
Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, het gesê die Stad bly verbind tot die versekering van die veiligheid van almal.
“Almal het die grondwetlike reg om te betoog, maar daardie reg kan nie inbreuk maak op die regte van ander nie. Ons sal geen geweld of ontwrigting in ons Stad duld nie. Ons is hou ook opportunistiese misdadigers wat die situasie dalk wil uitbuit, dop,” het Smith gesê.
Intussen het die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensie-struktuur (NATJOINTS) gesê die regering is gereed om almal se veiligheid op 30 Junie 2026 te verseker.
NATJOINTS se mede-voorsitter, luitenant-generaal Tebello Mosikili, het gesê: “Ons sal elke wettige en vreedsame betoging veilig hou. Ons sal elke gemeenskap beskerm. Ons sal kritieke infrastruktuur beveilig. Ons sal openbare orde handhaaf.
“En waar kriminaliteit sy kop uitsteek, sal ons vinnig en beslissend binne die perke van die wet optree. Aan elke Suid-Afrikaner, wees vol vertroue dat julle veiligheid ons hoogste prioriteit bly.”
