11 doodgeskiet in KwaMakhutha
Verdagtes bars by huis in terwyl mense partytjie hou
Massa-moord eis 11 in KZN
MISDAADTONEEL: KwaMakhutha, KwaZulu-Natal: Elf mense is dood en drie gewond toe gewapende mans Dinsdagaand, 22 September 2026, by ‘n huis ingestorm en op die groep begin skiet het.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was een van die slagoffers ‘n swanger vrou.
“Inligting wat tans beskikbaar is, dui daarop dat 13 mans en een vrou – wat na bewering swanger was – in ‘n huis partytjie gehou het toe drie mans op hulle begin skiet het.
“Tien slagoffers is op die toneel oorlede en vier is na die hospitaal geneem, waar een van hulle aan skietwonde beswyk het.
“Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat sommige van die slagoffers deur Misdaadintelligensie ondersoek word in verband met onwettige aktiwiteite waaroor die polisie tans nie besonderhede kan bekendmaak nie,” het die SAPD gesê.
Die waarnemende nasionale polisie kommissaris, Luitenant-Generaal Puleng Dimpane, het die provinsiale kommissaris van KwaZulu-Natal opdrag gegee om onmiddellik ‘n 72-uur-opsporingoperasie van stapel te stuur om die verdagtes te arresteer.
Luitenant-generaal Dimpane het haar besorgdheid oor die sinnelose lewensverlies uitgespreek en haar medelye met die families van die oorledenes betuig, terwyl sy die beseerdes ‘n spoedige herstel toegewens het.
Hoewel die motief vir die skietery nog nie bevestig kan word nie, bestaan daar ‘n moontlikheid dat ‘n vete tussen mededingende groepe nie uitgesluit word nie, het die SAPD gesê.
Die SAPD doen ‘n beroep op gemeenskapslede om geloofwaardige inligting aan ondersoekers te verskaf wat kan help om die verdagtes te identifiseer en op te spoor. Inligting kan aan die ondersoekspan verskaf word, of anoniem deur middel van Stop Misdaad op 08600 10111; wenke kan ook anoniem via die MySAPS-App deurgegee word.
