2 sterf in Mossie-straat
Drie, insluitende 53-jarige vrou, ook in Seawind gewond
Twee sterf in massa-skietery
MISDAADTONEEL: Seawind, Kaapstad: Twee mans in hul 30’s is dood en drie mense is beseer tydens ‘n massa skietvoorval Dinsdagmiddag, 17 November 2026.

Volgens sersant Wesley Twigg, ‘n skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, het die skietery omstreeks 16:00 in Mossie-straat, Seawind, plaasgevind.
Twigg sê die Muizenberg-polisie het ná die voorval twee sake van moord en drie van poging tot moord oopgemaak.
“Twee mans in hul dertigs is noodlottig gewond en op die toneel dood verklaar. Drie ander mense, insluitend ‘n 53-jarige vrou, is beseer en na ‘n mediese fasiliteit vervoer vir behandeling.
“Volgens berigte het insittendes van ‘n voertuig tot by die slagoffers gery en op hulle losgebrand voordat hulle van die toneel gevlug het. Speurders van die Anti-Bende-eenheid behartig die ondersoek,” het Twigg gesê.
Hy het bygevoeg lede van Operasie Prosper, wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) insluit, is reeds in die gebied ontplooi om kalmte te herstel en wet en orde te handhaaf.
“Hierdie operasies sal voortduur totdat ons tevrede is daar is weer orde,” het Twigg gesê.
