Lavender Hill Guy Fawkes
Kinders na bewering betrokke by gewelddadige aksies
3 vas oor Guy Fawkes geweld
Daar was Donderdag, 5 November 2026, groot chaos en verskeie voorvalle van geweld wat na bewering in die naam van Guy Fawkes deur hoofsaaklik kinders en jong volwassenes reg oor Kaapstad gepleeg is.

Stories en video’s van die geweldadige tonele – insluitend klipgooiery, brandende bande en aanvalle waar mense met verf gesmeer word – is op sosiale media gedeel. Die areas sluit in Lavender Hill, Cafda Village, Parkwood, Hanover Park, Mitchells Plain en Elsiesrivier.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het drie mans, tussen die ouderdomme van 19 en 21 jaar, in Lavender Hill gearresteer op aanklagte van openbare geweld. Terselfdertyd moes sewe minderjariges uit dieselfde gebied, tussen 13 en 17-jaar-oud, verantwoording doen vir hul optrede.
Lesers het in hul kommentaar sterk misnoeë uitgespreek en aangevoer dat ouers verantwoordelik gehou moet word vir die kinders se gedrag.
Luitenant-kolonel FC van Wyk, bevelvoerder van die Wes-Kaapse polisie se mediasentrum, sê Steenberg-polisie het Donderdagoggend, 5 November 2026, klagtes oor openbare geweld in Lavender Hill ontvang.
“Die stasiebevelvoerder en polisiebeamptes het op die voorval gereageer wat op die hoek van St Christopher- en Military-weg plaasgevind het. Hulle het daar jong seuns aangetref wat mekaar met klippe bestook. Dit het gevaar ingehou vir padgebruikers en ook skade aan eiendom aangerig.
“Misdaadbestryding-operasies in die Steenberg-gebied is onmiddellik verskerp deur verhoogde polisieteenwoordigheid van die plaaslike polisie, die Anti-Bende-eenheid, die Openbare Orde-polisie, Stad se Metro polisie en wetstoepassingsbeamptes.
“Drie mans, tussen 19 en 21-jaar-oud, is gearresteer vir openbare geweld. Hulle sal binnekort in die Wynberg-landdroshof verskyn,” het Van Wyk gesê.
Die motief vir die klipgooiery word tans ondersoek. Die SAPD in die Wes-Kaap sal nie toelaat dat wetteloosheid ongestraf bly nie, en oortreders kan ’n onaangename ontmoeting met die regstelsel verwag, het Van Wyk bygevoeg.
“Die stasiebevelvoerder van Steenberg wag tans daarop dat sewe minderjarige seuns, tussen die ouderdomme van 13 en 17-jaar, wat na bewering hierdie openbare geweld aangehits en daaraan deelgeneem het, ter verantwoording geroep word. Hierdie seuns is nie in aanhouding nie.
“Die polisie sal geen misdadige optrede duld nie, en ons lede sal nie huiwer om besliste stappe te doen nie.”
