SAPD maak arrestasies
Betogings landswyd meestal vreedsaam
Polisie arresteer plunderaars
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het sedert die vroeë oggendure van Dinsdagoggend, 30 Junie 2026, verskeie arrestasies gemaak in verband met voorvalle van plundering en poging tot plundering wat in dele van die land aangemeld is.

Die Ministerie van Polisie het die arrestasies bevestig en gesê hoewel polisiëring tot dusver effektief was met demonstrasies wat grootliks vreedsaam verloop het, hert die polisie op geïsoleerde voorvalle van plundering en poging tot plundering gereageer.
Die polisie bly op hoë gereedheidsgrondslag om openbare veiligheid te verseker, besighede en kritieke infrastruktuur te beskerm, en wet en orde te handhaaf. Polisie lede is opdrag gegee om vinnig en beslissend op te tree teen enigiemand wat betrokke is by kriminele aktiwiteite, insluitend plundering, poging tot plundering, openbare geweld, kwaadwillige beskadiging van eiendom, intimidasie of enige ander onwettige gedrag.
Die waarnemende Minister van Polisie, mnr. Firoz Cachalia, het burgers aangespoor om hul grondwetlike regte verantwoordelik uit te oefen en te verseker dat demonstrasies vreedsaam en wettig bly.
“Diegene wat kies om die optogte te gebruik om kriminele dade te pleeg, sal die volle mag van die wet in die gesig staar,” het die Minister gesê.
Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het gesê teen 14:00 was daar geen groot ontwrigtings in Kaapstad nie.
Daar was berigte van plundering in Delft, Kraaifointein en Hanover Park.

Die Stad het gesê dat betogers wat vroeër Dinsdag 30 Junie 2026 buite die provinsiale wetgewer in die Middestad vergader het, uit die gebied begin beweeg het. ‘n Tweede groep het buite die St. George-katedraal vergader.
Die Stad het gesê twee groepe mense wat in Kraaifontein betoog het, het by die plaaslike polisiestasie opgedaag om ‘n memorandum aan die SAPD te oorhandig. Nadat hulle versprei het, het van die skare oproerig geraak en ‘n skokgranaat is afgevuur om orde te herstel.
Dienste is ook teenwoordig in Delft waar ‘n groep ‘n winkel in Main Road geplunder het. Die Stad sê hy wag op verdere besonderhede van die SAPD oor arrestasies wat in verband met daardie voorval gemaak is.
