Smash and grab aanval op noodwerker

 
 

Polisie ondersoek oorsaak van dood

Nood-werker sterf ná aanval

MISDAADTONEEL: Elsiesrivier, Kaapstad: Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand het aanvalle op nood-werkers en pasiënte veroordeel na die dood van een van sy personeellede op Donderdag, 18 Junie 2026.

Die 57-jarige werker van die noodmediese dienste (EMS) is Donderdag deur smash-and-grab misdadigers aangeval terwyl hy aan diens was in Elsiesrivier.

Die omstandighede rondom die oorsaak van sy dood word ondersoek.

‘n Skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, Kaptein FC van Wyk, sê die Elsiesrivier-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geregistreer na die voorval omstreeks 14:00 in Riebeeckstraat, Leonsdale, Elsiesrivier.

“Daar was geen sigbare beserings aan sy liggaam nie. Hy is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar. ‘n Nadoodse ondersoek sal uitgevoer word om die oorsaak van dood te bepaal.”

Mense met inligting oor die voorval word vriendelik versoek om die ondersoekbeampte, speur-adjudant-offisier Nell, te kontak by 021 928 1400.

Die gesondheidsdepartement het bevestig die personeellid is “tragies oorlede is na ‘n smash-and-grab voorval in die omgewing van Van Riebeeck-rylaan en Epping-laan.

“Op hierdie stadium word die presiese omstandighede rondom die voorval en die oorsaak van dood steeds ondersoek.

“Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand gee ons volle samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

“Ons betuig ons opregte meegevoel aan ons personeellid se familie, geliefdes en kollegas gedurende hierdie uiters moeilike tyd.”