Angus Mckezie loof gemeenskap

 
 

Man koelbloedig in straat afgemaai

Twee verdagtes blitsig vas

MISDAADTONEEL: Bonteheuwel, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het twee moordverdagtes gearresteer minute nadat ‘n man in ‘n bendeverwante skietery Donderdag, 2 Julie 2026 gesterf het.

Volgens die SAPD het lede van die Bishop Lavis-polisie Donderdagmiddag gereageer op ‘n skietery terwyl hulle naby op patrollie was.

“Hulle het vinnig reageer en met hul aankoms op die hoek van Boekenhout-straat en Bramble-weg, Bonteheuwel, het hulle ‘n 31-jarige man gevind wat skietwonde aan sy liggaam opgedoen het. Die slagoffer is op die toneel dood verklaar,” het die SAPD gesê.

Die Blitspatrollie wat ook op die skietvoorval gereageer het, het toe twee mans opgemerk wat van die toneel vlug en hulle agternagesit.

Volgens die SAPD is die verdagtes gearresteer en deursoek.

“Hulle het ‘n .38 Special-rewolwer met ammunisie en ‘n 9 mm-pistool in hul besit gehad. Die 25- en 39-jarige verdagtes is gearresteer op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en moord.”

Volgens die wyksraadslid vir Bonteheuwel, Angus McKenzie, het die gemeenskap ook ‘n rol gespeel in die arrestasies deur inligting via hul anonieme wenk-lyn te verskaf.

“Dit is ‘n groot oorwinning vir die mense van Bonteheuwel en stuur ‘n duidelike boodskap iuiot dat wanneer inwoners saam met wetstoepassing werk, misdadigers nêrens het om weg te kruip nie.

“’n Opregte woord van dank gaan aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Blitspatrollie, watse vinnige reaksie en beslissende optrede tot hierdie suksesvolle arrestasies gelei het.

“Aan elke inwoner wat voortgaan om anoniem inligting te verskaf, dankie. Julle bereidwilligheid om te praat, help om ons gemeenskappe veiliger te maak,” het McKenzie gesê.