Bus rol op N1
Voertuig vervoer 78 passasiers na Oos-Kaap
15 sterf toe bus op N1 rol
JONGSTE! Die dodetal in die N1-busongeluk het intussen tot 16 gestyg, met 20 beseerde passasiers wat in die Worcester-hospitaal behandel is, terwyl die res mediese hulp geweier het. Dit het ook aan die lig gekom dat die busbestuurder uitgeswaai het om ‘n botsing met ‘n afleweringsvoertuig te vermy toe die bestuurder beheer oor die bus verloor en die dit omgeslaan het.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), tesame met nood- en rampbestuur-personeel, het vanoggend omstreeks 00:45 op die ongeluk op die N1 naby Touwsrivier gereageer.

Volgens die SAPD dui vroeë inligting daarop dat die bus 78 passasiers van Kaapstad na die Oos-Kaap vervoer toe dit omgeslaan het. Geen ander voertuie was by die voorval betrokke nie.
“Vyftien passasiers is op die toneel dood verklaar. Die sterftes bestaan uit sewe mans, vyf vroue en drie kinders. Verskeie ander passasiers het beserings van verskillende erns opgedoen en is na nabygeleë mediese fasiliteite vervoer vir behandeling.
“Die omstandighede rondom die ongeluk word ondersoek,” het die SAPD gesê.
