Crossroads AK47 gewere
Gemeenskap help LEAP om verdagtes te vang
Drie vas oor AK47s
MISDAADTONEEL: Crossroads, Kaapstad: Beamptes van die Law Enforcement Advancement Plan (LEAP) het op onwettige vuurwapens beslag gelê en drie mense gearresteer.

Die LEAP-beamptes was Woensdagmiddag 29 Julie 2026 in in Crossroads besig met patrollies toe hulle deur bekommerde inwoners genader is oor ‘n verdagte Ford Ranger-bakkie.
Die inwoners het gesê die voertuig het herhaaldelik in en uit die gebied gery asof hulle wag vir iets om te gebeur.
Die beamptes het die bakkie opgespoor en nadat hulle die drie insittendes beveilig het, is die voertuig deursoek. Binne het hulle vier gelaaide AK-47-gewere, 10 magasyne met 287 rondtes ammunisie, een gelaaide 9 mm-pistool met 62 rondtes ammunisie, handskoene en balaklawas gevind.
Volgens die Stad Kaapstad se Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, was vals nommerplate op die voertuig aangebring.
“Al drie verdagtes is gearresteer en aan die Nyanga-polisie oorhandig vir verdere ondersoek en vervolging.
“Dit is ‘n uitsonderlike arrestasie deur ons toegewyde Lbeamptes en demonstreer weereens die waarde van die LEAP-program, wat moontlik gemaak is deur ‘n vennootskap tussen die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering, wat die ontplooiing van hierdie beamptes befonds,” het Smith gesê.
