Elsiesrivier moord
Polisie kry liggaam op sypaadjie
Slagoffer vyf keer geskiet
MISDAADTONEEL: Elsiesrivier: ‘n Man is Saterdagoggend 27 Junie 2026 hier doodgeskiet.

Die Elsiesrivier-polisie het omstreeks 10:00 gereageer op ‘n skietery wat aan die gang was in Hollow Way, Clarke Estate.
“Met hul aankoms het hulle die liggaam van ‘n 31-jarige man met vyf skietwonde aan sy liggaam op ‘n sypaadjie gevind. Hy is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.
“’n Saak van moord word ondersoek en geen arrestasies is nog gemaak nie,” het die skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, konstabel Ndakhe Gwala, gesê.
Skietery in Elsiesrivier vermoedelik bendeverwant
Man voor sy huis afgemaai
MISDAADTONEEL: Elsiesrivier, Kaapstad: ‘n Man is Dinsdagaand 26 Junie 2026 voor sy huis doodgeskiet.

Volgens ‘n skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, kaptein FC van Wyk, het lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) van Elsiesrivier om 19:45 gereageer op ‘n skietvoorval by ‘n perseel in Ou Stellenbosch-weg, Clarke Estate, Elsiesrivier.
“Met hul aankoms het hulle die 43-jarige oorledene op die sypaadjie voor sy huis met veelvuldige skietwonde aan sy liggaam gevind. ‘n Moordsaak is geopen. Die motief vir die moord is vermoedelik bendeverwant,” het Van Wyk gesê.
Hy het mense met inligting oor die voorval versoek om Crime Stop op 08600 10111 te kontak of dit anoniem via die MySAPS-App aan te meld.
