George plaas chemiese voorval
Nog 12 beseer toe werkers tenk skoonmaak
Chemiese voorval eis 3 op plaas
GEORGE, Suid-Kaap: Drie werkers is dood en 12 ander in die hospitaal opgeneem nadat hulle na bewering Dinsdag, 13 Oktober 2026 ,aan gifstowwe op ‘n plaas noord van Heroldsbaai, blootgestel is.

Volgens verslae was die plaaswerkers besig met skoonmaakwerk binne ‘n tenk wat ‘n mengsel van chemikalië, insluitend fosforsuur, bevat het. Verskeie werkers is oorweldig deur die stowwe, en ander wat hulle wou help, is ook daaraan blootgestel.
Drie mans is op die toneel oorlede. Uit die 12 wat na die hospitaal in George geneem is, is een ‘n ernstige, terwyl 11 vir geringe blootstelling behandel is.
Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM) het gesê sy brandweerpersoneel het chemiese absorbeermiddels aangewend om die gevaarlike vloeistof te neutraliseer, terwyl brandweerpersoneel van die George-munisipaliteit die oorledenes ontsmet het voordat die lyke verwyder is.
Na verwagting sal brandweerpersoneel op 14 Oktober terugkeer vir ‘n finale ronde van ontsmetting en sterilisasie.
Die uitvoerende burgemeester van die GRDM, Marais Kruger, het sy medelye betuig met die families, vriende en kollegas van die drie persone wat tragies hul lewens in die voorval verloor het.
“Ons dink ook aan die 12 persone wat beseer is, sowel as almal wat deur hierdie tragiese gebeurtenis geraak is.”
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n geregtelike doodsondersoek na die sterftes ingestel.
Amptenare het gewaarsku dat chemiese dampe gevaarlik bly totdat volledige neutralisering plaasgevind het. Inwoners moet voorvalle wat met gevaarlike stowwe verband hou, by die GRDM se noodoproepsentrum aanmeld by 044 805 5071 of via WhatsApp by 081 709 5193.
