Hawks kry militêre wapens
Hawks kry klomp militêre wapens
2 vas oor moord komplot
NASIONAAL: Die Valke het ‘n arsenaal militêre-graad wapens gekonfiskeer en ‘n beweerde komplot om ‘n senior regeringsamptenaar te vermoor, gestuit.

Die multi-dissiplinêre operasie aan die Oos-Rand het ook gelei tot die arrestasie van ‘n administratiewe klerk van die Departement van Menslike Nedersettings en ‘n medepligtige.
Die saak dateer terug tot 2024 toe ‘n amptenaar van die Departement van Menslike Nedersettings ‘n klag gelê het na dreigemente teen sy lewe.
Die amptenaar het beweer hy word geteiken deur huurmoordenaars nadat hy probeer het om interne korrupsie, wat die onwettige verkoop van RDP-huise behels, stop te sit.
Die verdagtes het na bewering ‘n paar keer probeer om die amptenaar in ‘n lokval te lei, telefoniese doodsdreigemente gemaak en ook skote afgevuur.
Op Donderdag 2 Julie 2026 het die span ondersoekers van die Valke se Oos-Rand Ernstige Georganiseerde Misdaadondersoek)-eenheid die eerste verdagte in die Mpumalanga-provinsie opgespoor.
Hy is gearresteer en sy woning is deursoek. Dis toe dat die polisie op die arsenaal wapens ontdek, ‘n AK-47-aanvalsgeweer, vier 9 mm-pistole, ‘n outomatiese pompaksie-haelgeweer, twee .308 hoëkalibergewere en ‘n luggeweer.
Die verdagte het lisensies vir die vuurwapens Gehad, die hele arsenaal en ammunisie is gekonfiskeer vir ballistiese toetse.
Vrydag 3 Julie 2026 het die ondersoekers, saam met die Valke se Digitale Forensiese Ondersoek-eenheid, op die Alberton Menslike Nedersettingsdepartement se kantore toegesak het. Die span het hier ‘n administratiewe klerk binne die departement, wat vermoedelik die interne meesterbrein agter die sluipmoordkomplot is, gearresteer.
Hulle het ook vier skootrekenaars en sewe selfone gekonfiskeer vir digitale forensiese analise. Beide verdagtes is aangekla van sameswering om moord te pleeg.
Die beskuldigdes, Thulani Collen Ndwandwe (49) en Tonia Mphemba Hlongwane (48), het reeds in die Palm Ridge-landdroshof verskyn en hulle saak is uitgestel tot 13 Julie 2026 vir ‘n formele borgtogaansoek.
