Killarney bus brand
Passasiers, personeel veilig ontruim
Ondersoek ná bus brand
KILLARNEY, Kaapstad: Die Stad Kaapstad het ‘n ondersoek begin om die oorsaak van ‘n brand aan ‘n MyCiTi-bus te bepaal.

Die bus is heeltemal vernietig en groot skade is aan die Killarney-stasie gerig, wat vir die afsienbare toekoms gesluit sal bly.
Die Stad se Stedelike Mobiliteitsdirektoraat het die ondersoek bevestig en gesê dat daar geen beserings as gevolg van die brand was nie.
Die 18 meter lange MyCiTi-bus het kort voor 09:00 op Maandag, 27 Julie 2026 by die MyCiTi-stasie in Killarney, langs Potsdam-weg, naby die kruising met Silverstone-weg, aan die brand geslaan. Die Stad se brandweerdienste het gehelp om die brand te blus.
Die Stad se Burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Mobiliteit, Raadslid Rob Quintas, sê die bestuurder het ‘n ongewone geluid gehoor toe hy by die Killarney-stasie aankom.
“Die volgende oomblik het hy rook voor aan die bus opgemerk. Gelukkig is al die passasiers en personeel veilig uit die bus voordat die brand vererger het.
“Ons is ook in kennis gestel dat ‘n protesoptog ‘n paar minute voor die voorval verder af in Potsdam-weg plaasgevind het. Die ondersoek sal ook bepaal of daar enige verband tussen die optog en die brand was.
“Hierdie voorval sal ‘n groot impak hê op die pendelaars wat van die Killarney-stasie gebruik maak. Hulle sal die Potsdam-stasie op die hoek van Potsdam- en Blaauwbergweg in die komende maande moet gebruik.
“Dit is ‘n massiewe slag vir ons bedrywighede, aangesien dit ‘n baie gewilde roete is. Die koste van die skade sal in die komende dae bepaal word, maar dit sal in die miljoene rande wees. Dit sal waarskynlik baie maande, indien nie ten minste ‘n jaar nie, neem om die herstelwerk aan die stasie te voltooi,” het Quintas gesê.
