Mosambiekse mans sterf
SA tiener, 2 mans van Mosambiek vermoor
Polisie waarsku betogers teen geweld
MISDAADTONEEL: Mosselbaai, Suid-Kaap: Polisie versterkings is hier ontplooi om kalmte en orde in die gebied te herstel.

Dit volg ná geweld Vrydag 29 Mei 2026 in KwaNonqaba, Mosselbaai, uitgebreek het en die arrestasie van vyf verdagtes.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Wes-Kaap het in ‘n verklaring gesê George se openbare orde-eenheid en die plaaslike polisie, het Vrydag gereageer het op sporadiese voorvalle van geweld, waartydens ongeveer 55 plakkershutte in die Asla Park-informele nedersetting in KwaNonqaba aan die brand gesteek is.
Polisie-ontplooiings, met die hulp van die plaaslike brandweer en rampbestuur-spanne, het die situasie, wat gelei het tot die verplasing van ‘n klomp mense, ietwat onder beheer gebring.
“In die vroeë oggendure van Saterdag 30 Mei 2026 is die liggaam van ‘n 27-jarige man met veelvuldige beserings ontdek. Kort daarna is nog ‘n man met sy aankoms by ‘n plaaslike hospital dood verklaar nadat hy na bewering aangerand is. Die twee oorledenes, 27 en 43-jaar-oud, was Mosambiekse burgers. Geen arrestasies is in verband met hierdie twee moorde gemaak nie.
“In ‘n aparte voorval, omstreeks 03:00 Sondagoggend, 31 Mei 2026, is die KwaNonqaba-polisie na die New Rest-informele nedersetting ontbied, waar die liggaam van ‘n 18-jarige Suid-Afrikaanse man ontdek is. Die oorledene het steekwonde opgedoen.
“Ondersoeke na hierdie moord vorder, met speurders wat soek na ‘n bekende verdagte,” lui die verklaring.
Die polisie het gesê twee mense is gearresteer en aangekla van openbare geweld. Hulle is op borgtog van R1000 elk vrygelaat nadat hulle Maandag in die hof verskyn het. Drie verdere verdagtes staan tereg op aanklagte wat verband hou met die besit van vermoedelike gesteelde eiendom.
“Die SAPD respekteer die reg van mense om te betoog. Diegene wat sulke optrede onderneem, word egter versoek om dit binne die perke van die wet te doen. Wanneer betogers gewelddadig raak, of geweld aanhits, sal die polisie nie huiwer om op te tree nie.
“’n Verdere pleidooi word gerig aan die gemeenskap en leiers om nie valse inligting te versprei nie, aangesien dit onnodige paniek en angs veroorsaak.
“Geen verdere voorvalle is sedert Maandag in die gebied aangemeld nie,” lui die polisieverklaring.
