Namakwa distrik dwelms
Polisie in Namakwa toon geen genade
Verskeie verdagtes vas vir dwelms
MISDAADTONEEL: Namakwa-distrik, Noord-Kaap: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het verskeie verdagtes gearresteer vir die besit van en handel in dwelms.

Op 7 September 2026, ongeveer 22:50, het lede van die Nababeep-SAPD roetine patrollies in Saal-straat, Concordia, uitgevoer toe hulle ‘n 38-jarige man deursoek het. Die man het na bewering dwelms in sy besit gehad en is gearresteer.
Later dieslefde aand, omstreeks middernag, het polisielede wat patrollies in Bethelstraat, Concordia gedoen het, ‘n 38-jarige man gearresteer vir die besit van dwelms.
Op 8 September 2026, om ongeveer 16:10, het die polisie inligting ontvang oor beweerde dwelmhandel by ‘n perseel in Loeriesfontein, waar ‘n 45-jarige man vir handel in dwelms gearresteer is.
“Tydens die deursoeking het die verdagte probeer om van die dwelms ontslae te raak deur dit in die toilet af te spoel.
“Polisielede het egter vinnig ingegryp en daarin geslaag om die dwelms te kry . Kontant, wat vermoedelik die opbrengs van onwettige dwelmverkope is, is ook in beslag geneem.
“Die optrede teen misdaad het in die vroeë oggendure van 10 September 2026 voortgeduur toe die Nababeep-polisie inligting ontvang het oor ‘n verdagte wat na bewering dwelms in Plaatjie, Concordia, verkoop.
“Om ongeveer 02:10 het lede na die perseel gegaan. Die verdagte het die deur oopgemaak ingestem dat die polisie die plek kan deursoek. Mandrax-tablette met ‘n geskatte straatwaarde van R1 500, is binne die perseel gevind.
“‘n 36-jarige vrou is vir die besit van dwelms gearresteer,” het die SAPD gesê.
