Noordhoek taxi geweld
Tweede voorval binne 24-uur
Twee sterf in taxi-geweld
MISDAADTONEEL: Masiphumelele, Kaapstad: Twee mense is vanoggend, Woensdag 3 Junie 2026, hier doodgeskiet.

Speurders van die provinsiale eenheid teen ernstige geweldsmisdaad ondersoek twee aanklagte van moord ná die skietery wat in Pokelaweg, Masiphumelele naby Noordhoek gebeur het.
Ocean View-polisie het omstreeks 6:45 op die skietery reageer en met hul aankoms het hulle die lyke van twee mans van 41-en 42-jaar-oud met skietwonde in die straat gevind, het konstabel Ndakhe Gwala van die Wes-Kaapse polisie se mediakantoor gesê.
“Die motief vir die skietery is vermoedelik taxi-verwant en geen arrestasie is nog gemaak nie. Enigiemand met inligting wat met die ondersoek kan help, word vriendelik versoek om Crime Stop te kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem te gebruik,” het Gwala gevra.
Dit is die tweede taxi-verwante skietvoorval in twee dae nadat vier mans Dinsdagoggend, 2 Junie 2026 in Nyanga dood geskiet en twee beseer is.
