Simonstad polisie
12 verdagtes naby Kaappunt vas
SANParke span net wyd vir stropers
MISDAADTONEEL: Kaappunt: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) het ‘n ‘groot sukses’ behaal in sy pogings om mariene lewe te beskerm.

Dit volg nadat SANParke se omgewingsmisdaad-ondersoekeenheid (OMI) 12 vermeende perlemoenstropers verhoed het om hul planne uit te voer.
‘n Intelligensie-gedrewe operasie is Dinsdagaand 9, Junie 2026 deur die OMI in die Kaappunt-gedeelte van die Tafelberg Nasionale Park (TMNP) uitgevoer.
Volgens ‘n verklaring van SANParke maak die operasie deel uit van ‘n uitgebreide ondersoek na die onwettige ontginning van mariene hulpbronne.
“Tydens die operasie is twee verdagte voertuie onderskep en deursoek. ‘n Beduidende hoeveelheid duiktoerusting is ontdek, wat dui op voorbereidings vir onwettige perlemoen stropery binne die beskermde gebied.
“Die 12 verdagtes, wat op pad was na die Kaappunt-gedeelte van TMNP, is gearresteer en is na die Simonstad-polisiestasie geneem vir aanhouding. Alle duiktoerusting is gekonfiskeer.
“Hierdie operasie, wat effektief verhoed dat ‘n gekoördineerde groep ‘n nasionale park binnegaan om onwettige stropery uit te voer, word as ‘n groot sukses beskou. Die arrestasies beklemtoon voortgesette pogings deur wetstoepassingsowerhede om omgewingsmisdaad te bestry en Suid-Afrika se mariene hulpbronne te beskerm,” het SANParke gesê.
