Suid Vrystaat ontvoering

 
 

Polisie loods soektog na gewapende verdagtes

Bejaarde egpaar beroof en ontvoer

MISDAADTONEEL: Kopanong, Suid-Vrystaat: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n soektog van stapel gestuur na drie gewapende verdagtes wat na bewering ‘n bejaarde egpaar beroof en ontvoer het.

Die 73-jarige man en sy 67-jarige vrou is vir twee dae lank as gyselaars aangehou voor hulle vrygelaat is.

Die twee het Sondag, 2 Augustus 2026 by hul huis in Bophelong geslaap toe hulle verras is deur drie gewapende mans wat by die huis ingekom het deur ‘n skuifdeur te breek. Die verdagtes het kontant geëis terwyl hulle albei slagoffers aangerand het.

Volgens die SAPD het die verdagtes huishoudelike items in die slagoffers se Suzuki-voertuig gelaai en ook die slagoffers in die voertuig gedwing.

Die SAPD het gesê die verdagtes het toe saam met die egpaar deur Bloemfontein gery voordat hulle hulle na Botshabelo geneem het.

“Daar is die slagoffers in ‘n plakkershut toegesluit terwyl die verdagtes onemagdigte  transaksies uitgevoer en ‘n onbekende bedrag geld digitaal van die slagoffers se bankrekeninge oorgeplaas het met behulp van hul selfone.

“Dinsdag, 4 Augustus 2026, omstreeks 04:00, het die verdagtes die slagoffers terug na hul huis in Bophelong geneem, hulle in die voertuig gelos en te voet van die toneel gevlug,” het die SAPD gesê.

Die Kopanong-polisie is na die toneel ontbied, en sake van huisroof en ontvoering is vir verdere ondersoek geopen.

Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting wat kan help om die verdagtes te identifiseer of op te spoor om dringend speur Luitenant-Kolonel Sias Smit van Kopanong-speurders te kontak by 063 692 1196, Stop Misdaad te skakel by 08600 10111, of ‘n anonieme wenk via die MySAPS-toepassing in te dien.