Tender bedrog Valke

 
 

Hof bevind hulle manipuleer tenders vir eie gewin

Paartjie sit 10 jaar vir bedrog

UIT DIE HOF: Die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) verwelkom die vonnis van Marthinus Rabie (61), sy vrou Johanna Rabie (60) en hul maatskappye, op 34 aanklagte van bedrog van meer as R3.2 miljoen.

Die foto is geskep met behulp van AI en word slegs vir illustrasie doeleindes gebruik.

Die Oudtshoorn-streekshof het die paartjie Woensdag, 29 Julie 2026 tot 10 jaar direkte gevangenisstraf elk gevonnis.

Marthinus was gedurende 2005 en 2008 in diens van die Departement van Landbou in Oudtshoorn en verantwoordelik vir die aanstellings en goedkeuring van tenders vir die departement.

Volgens die Valke se woordvoerder, adjudant-offisier Zinzi Hani, het ondersoeke aan die lig gebring dat hy saam met sy vrou en deur middel van hul twee geslote korporasies vir konstruksiewerk by die departement getender het.

Die hof het bevind dat die beskuldigdes die kwotasies van ander tenders of mededingers gemanipuleer het om gunstig geëvalueer te word, wat ander maatskappye benadeel het. Die meeste tenders in die gebied is aan hulle korporasies toegeken.

Attaqua Development CC en Gwaing Development CC, beide verteenwoordig deur Johana, is elk gevonnis tot ‘n boete van R500 000 of vyf jaar gevangenisstraf, wat geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Die Wes-Kaapse hoof van die Valke, generaal-majoor Mathipa Makgato, het die vonnis verwelkom en gesê: “As wetstoepassers bly ons verbind tot die vervolging van sake van bedrog en die bevordering van integriteit en respek vir die gereg.”